Volgens ao. Alwin Labans het die betoging omstreeks 12:00 begin.
“Betogers het die kantoor van ‘n plaaslike raadslid afgebrand, terwyl paaie met klippe en pale afgesper is.”
Labans het gesê die situasie was teen Donderdagaand kalm en die polisie monitor die gebied.
Die twee wat in hegtenis geneem is, word aangekla van openbare geweld en sal binnekort in die hof verskyn, het hy gesê.
Konst. Melusi Muzikayise Manyisa (31) het saam met Alfred Mkhabela (32) in die Barberton-landdroshof verskyn, het sers. Gerald Sedibe gesê.
“Albei hierdie mans word aangekla van openbare geweld, brandstigting en intimidasie. Die saak is uitgestel tot 6 Augustus,” het hy gesê.
Sedibe het gesê hulle was na bewering deel van ‘n groep betogers wat ‘n satelliet-polisiekantoor en munisipale geboue Maandag aan die brand gesteek het. Manyisa was in dié stadium van diens af.
Sedibe het gesê die betoging het Maandagoggend begin. Die polisie het traangas gebruik toe betogers winkels wat aan buitelanders behoort begin plunder het.
“Betogers het geëis dat die voorgestelde Mpumalanga Universiteit, wat volgens gerugte in Witrivier gebou sal word, in Barberton gebou moet word.”
Hy het gesê Manyisa sal ook intern deur die polisie ondersoek word.
