Kerkleiers se versuim om Afrikaners in te lig

‘n 100 jaar gelede was daar kort na die Tweede Vryheidsoorlog, relatief min nie-blanke mense binne die ou Britse kolonies in Suidelike Afrika. Blankes het lateraan in ‘n toenemende mate gebruikgemaak van goedkoop nie-blanke arbeid. Dit was veral die landboubedryf en mynbedryf wat daarby baatgevind het en sodoende heelwat geld gespaar het. Hul kortsigtige najaag van finansiële winste het dikwels gepaardgegaan met die betaal van so klein as moontlik salarisse vir die maksimum hoeveelheid arbeid. Daardie ekonomiese strategie het egter op die kort termyn heelwat ekonomiese groei en tegnologiese vooruitgang aan die land gebied. Die gepaardgaande verryking van mynbase en sommige blanke boere, moet ook nie uit die oog verloor word nie. Op die lang termyn het daardie ekonomiese bestel daartoe aanleiding gegee dat duisende nie-blankes naderhand gewoon en gewerk het binne die ou Republiek van Suid-Afrika, sonder dat hulle dieselfde politieke regte as die blanke burgers geniet het.

Terwyl hebsug en die najaag van aardse rykdomme as struikelblokke op die weg na moksha of Nirvana deur Oosterse gelowe soos o.a. Hindoeïsme en Boeddhisme beskou word, was dit nog nooit een van die georganiseerde Christelike kerke se hoofprioriteite om hul lidmate daarteen te waarsku nie. Dit is welbekend dat die Rooms-Katolieke kerk onskatbare rykdomme deur die jare versamel het, waarvan die massiewe katedrale genoegsame getuienis is. Calviniste was deur die jare daarvoor bekend dat hulle ywerige ondersteuners van kapitalisme was. Kerkleiers van die ou Afrikaanse kerke het verplig gevoel om hul lidmate te waarsku teen die sondes van die vlees – “sondes” wat meer van toepassing was op seksualiteit as op die najaag van wins en die gepaardgaande misbruik van ander mense se goedkoop arbeid! Afrikaanse kerkleiers het gevolglik versuim om hul lidmate attent te maak op die toekomstige gevare wat die bg. ekonomiese stelsel op die ou end vir hul nageslag sou inhou.

Die meeste Afrikaanse kerkleiers het meer as 20 jaar gelede, óók versuim om aan hul kerklidmate te verduidelik in watter opsigte die beleid van Apartheid en die toepassing daarvan, immoreel was. Hulle het nié die onderdrukking van een bevolkingsgroep deur ‘n ander, pertinent veroordeel nie. Die verskil tussen Klein Apartheid en Groot Apartheid is nooit voldoende aan kerklidmate verduidelik nie. Klein Apartheid was die gevolg daarvan dat miljoene swart arbeiders teenwoordig was binne “blank-beheerde” Suid-Afrika, sonder dat hulle dieselfde publieke geriewe as blankes kon gebruik en sonder dat hulle dieselfde politieke regte as blankes geniet het. Groot Apartheid is die volledige geografiese skeiding tussen bevolkingsgroepe waar elke bevolkingsgroep in hul eie volkstaat woon en werk, met ‘n regering bestaande uit slegs lede van hul eie bevolkingsgroep. In laasgenoemde geval is daar dus géén lede van ‘n ander bevolkingsgroep in ‘n volkstaat teenwoordig wat onderdruk word nie. Nugter alleen weet in watter opsigte Groot Apartheid “onbybels” of “onchristelik” kan wees! Baie “linksgesinde” kerkleiers het naderhand besef dat Groot Apartheid nié teenstrydig is met enige van die driesuster kerke se tradisionele ekumeniese of “Drie Formuliere van Eenheid” geloofsbelydenisse nie, en daarom is besluit om ‘n bykomende geloofsbelydenis, nl. die Belhar belydenis, te aanvaar. Die Belhar belydenis het veral betrekking op die verhoudings tussen bevolkinsgroepe en daarom verpolitiseer dit op ‘n manier die oorspronklike “evangeliese boodskap” van Protestantisme. Die onlangse aanvaarding van daardie belydenis deur die Algemene Sinode van die tradisioneel “blanke” NG Kerk, kan egter lei tot ‘n verdere uittog en vervreemding van baie van hul blanke lidmate.

Vir etlike jare het baie blankes hulself as verhewe bo en “slimmer” as die nie-blankes beskou. Hulle het geglo dat nie-blankes nog nie “gereed” was vir die Witman se politieke stelsel nie en was bang dat die verskaffing van gelyke regte aan nie-blankes, tot die ondergang van hul “blanke” beskawing sou lei. In plaas daarvan om spoedig genoeg ánder gebiede aan nie-blankes beskikbaar te stel waarbinne hulle hulself kon regeer, het blankes gerieflikheidshalwe verkies om vir eers van ‘n moontlike toekomstige dilemma te vergeet en om nog rustig voort te gaan om nie-blankes op hul plase en in hul huise as bediendes te gebruik. Baie blankes het op die ou end wegbeweeg vanaf daardie onhoudbare situasie wat die onderdrukking van ‘n meerderheid nie-blankes deur ‘n minderheid blankes behels het. Hul besluite het toe noodgedwonge gelei tot die ANC bewindsoorname in 1994.

Sou Suid-Afrika vandag noodwendig ekonomies agterlik gewees het, sónder die vroeëre gebruikmaking van nie-blanke arbeid? Sou ons vandag in tente gewoon het indien dit nie was vir die “voordelige” invloed van internasionale mynmaatskappye nie? Indien ons die toestande in Suid-Afrika vergelyk met dié in Australië, moet ons onsself afvra waarom Suid-Afrika deesdae die 28ste grootste ekonomie in die wêreld het teenoor Australië se 13de plek en waarom Australië die sesde hoogste per capita-inkomste het, teenoor Suid-Afrika se 70ste plek? Albei lande se ekonomie het aanvanklik landbou en later minerale hulpbronne as basis gehad en albei is lande van die sg. Nuwe Wêreld. Blankes het Australië sedert 1770 en Suider Afrika sedert 1652, in toenemende mate beset. ‘n Insiggewende verskil is egter in die samestelling van die bevolkings – waar Australië 23 miljoen inwoners het waarvan 1,7% Aborigines is, het Suid-Afrika ‘n bevolking van 50 miljoen waarvan 80% swartmense is. Australiërs presteer dus ekonomies beter terwyl hulle nooit tot dieselfde mate gebruikgemaak het van goedkoop nie-blanke arbeid nie. Lees gerus hierdie brief op Rapport se webblad in verband met die laasgenoemde gegewens.

Het die Christendom werklikwaar méér voor- as nadele vir Afrikaanse blankes ingehou, of was dit miskien een van die hoofoorsake van die meeste van hulle se huidige oningeligte status? Hoe is dit moontlik dat ‘n boek, die Bybel, wat na bewering deur die Alwyse Skepper van die heelal aan mense geopenbaar is, nié aan hulle duidelike riglyne kon verskaf in verband met die korrekte optrede teenoor mense van ander bevolkingsgroepe nie? Indien Afrikaanse kerkleiers byvoorbeeld al meer as 60 jaar gelede hul lidmate gewaarsku het teen die moontlike toekomstige gevare wat die gebruikmaking van goedkoop nie-blanke arbeid vir hulle sal inhou, sou ons nie vandag die probleem gehad het van ‘n minderheid blanke Afrikaners wat onderdruk word deur ‘n swart meerderheidsregering nie; asook nie die moontlikheid van ‘n toekomstige onderdrukkende (moontlik kommunistiese) eenpartydiktatuur nie. Die versuim van kerkleiers om hul lidmate te waarsku, het dus indirek gelei tot die geleidelike vernietiging van Afrikaners se eiesoortige lewenswyse, waardes, taal en kultuur.

Multinasionale maatskappye het veral die afgelope dekades geweldige belangstelling in Afrika getoon en het al heelwat gebaat by die verkryging van Afrika se minerale rykdomme. Baie regeringsleiers van Afrika-lande bevoordeel hulself finansieel ten koste van die res van die mense in hul eie land, deur samewerking met sulke besigheidsmense. ‘n Korrupte swart elite verskaf sodoende makliker mynkonsessies aan hebsugtige internasionale geldbelange.

Die Oppenheimer-familie is daarvoor bekend dat hulle al vir baie jare die meer “liberale” partye soos o.a. die ou PFP/DP, ondersteun het in hul strewe na die inwerkingstelling van “een-mens-een-stem” in die land. Ek het as kind dikwels gewonder waarom daardie superryk mense dan gestrewe het na ‘n situasie waarbinne hul eie geld en eiendomme dan moontlik gekonfiskeer word deur ‘n toekomstige sosialistiese “swart” regering. Óf hulle was werklikwaar bekommerd oor die welstand van die meeste swartmense, óf hulle het in ‘n toekomstige swart meerderheidsregering, besigheidsmoontlikhede gesien waardeur hulle hulself nog verder kon verryk. Ek sien alreeds in my geestesoog hoe die skatryk Harry Oppenheimer tydens die ou Suid-Afrika in trane uitgebars het terwyl hy verby ‘n arm swart township in sy spogmotor gery het en die ellende daar waargeneem het…

Die feit van die saak is dat daardie prominente besighede deesdae sekere voordele geniet in ‘n land wat deur ‘n hoofsaaklik “swart” regering regeer word – voordele wat hulle nié kon geniet het onder byvoorbeeld die bewind van dr. Verwoerd nie. Sodanige voordele impliseer veral dat die minerale rykdomme van Suid-Afrika leeggesuig is deur internasionale mynmaatskappye soos o.a. Anglo American en De Beers, met die gepaardgaande suurwaterprobleme wat as gevolg daarvan ontstaan het. Hulle maak ook nog steeds gebruik van goedkoop swart arbeid – arbeid wat indirek aanleiding gee tot die verdere toename in swart bevolkingsgetalle. Grondgrype is ook uiteindelik deel van die groter strategie van die geldmagte. Hulle is deeglik bewus daarvan dat die nuwe “opkomende” swart boere nié in staat is om die plase suksesvol te bedryf nie. Nadat die plase dan uiteindelik in krotbuurtes verval, sal die plase goedkoop deur magnate opgekoop word.

Internasionale geldbelange leen geweldige hoevelhede geld aan Afrika-lande om dan kwansuis die Afrikane te help om hul lande “op te bou”. Konsessies om besighede te bedryf, word dan maklik deur die Afrika-regerings aan daardie belange toegestaan. As gevolg van nepotisme, korrupsie en die wanaanwending van die geld, word Afrika-regerings dikwels “nie-amptelike” marionette van daardie geldbelange. Die gevolge daarvan is die verdere verryking van die korrupte swart elite, die verarming van die meeste ander swartmense en natuurlik die toename in rykdomme van internasionale geldbelange. Daar is heelwat inligting beskikbaar oor die skade wat deur super-kapitaliste aangerig is in die wêreld en ek wil nie eintlik in verband daarmee as’t ware wéér die “wiel herontdek” nie.

Samewerking tussen die internasionale geldmag en kommunistiese regerings is al in verskeie boeke duidelik uiteengesit. Die kommunistiese leiers van die ou Sowjetunie het hulself verryk ten koste van die meeste inwoners van hul land, terwyl hulle slegs voorgegee het dat hulle daarna strewe om uiteindelik aan andere te gee volgens hul behoeftes. Dit is ook duidelik dat die ANC regering die afgelope 17 jaar hulself verryk het ten koste van die welstand van die meeste inwoners van die land. Ongelukkig is dit so dat in die meeste Afrikalande, óú korrupte regerings deur núwe korrupte regerings vervang word. Politici wat nuut op die toneel verskyn gee dikwels voor dat húlle, anders as die huidige regering, hul werklikwaar bekommer oor die welsyn van die behoeftiges. Nadat hulle die bewind oorgeneem het, word die gaping net groter tussen die superryk elite en die arm mense. Julius Malema se mooiklinkende besware teen ryk wit mans aan die een kant, en sy spogwoning in Sandton aan die ander kant, is ‘n uitstekende voorbeeld daarvan.

In plaas daarvan dat kerklidmate ingelig word oor die gevare wat die internasionale geldmag vir die land se mense inhou en die maniere waarop die geldmag die korrupte ANC regering as marionette gebruik, luister hulle na ‘n alewige gesanik oor die gevare en “sondes” van pornografie, homoseksuele dade en ongetroude paartjies wat saamwoon. Sodoende funksioneer kerke as weerligafleiers deurdat hulle hul lidmate se aandag fokus op minder belangrike “probleme”. Is daar kerkleiers wat hul kerklidmate doelbewus mislei en daarvoor vergoed word deur duistere magte? Dit is welbekend dat die Afrikaner Broederbond (AB) in die verlede ‘n groot invloed gehad het op die besluite van beide die ou Nasionale Party regering én die sinodes van die Afrikaanse driesuster kerke. Terwyl die AB in die vroeë dekades van die vorige eeu gestig is met die uitsluitlike doel om die belange van die Afrikanervolk en die Christendom te bevorder, het dit gaandeweg ontaard in ‘n organisasie waarvan die lede mekaar bevoordeel het ten koste van hul mede-Afrikaners. Ek onthou nog goed hoe daar teen kinders op skole gediskrimineer is omdat hul pa’s nié lede van die AB was nie!

Kerkleiers probeer om hul volgelinge gerus te stel deur aan hulle te vertel dat God méér magtig is as beide die ANC regering én die toenemende probleme in die land en dat hulle op Hom moet vertrou om uiteindelik al die probleme op te los. Daardie valse hoop weerhou kerklidmate daarvan om die realiteite van die land behoorlik te begryp en vervolgens hul lewens beter te beplan. Deur aan die een kant gelowiges gerus te stel deur hulle aan God se genade te herinner, en aan die ander kant hul aandag te fokus op die bogenoemde “sondes”, word hulle daarvan weerhou om die wáre oorsake van hul probleme doeltreffend te begryp en op te los. As gevolg van jarelange misleiding is baie Afrikaanse kerklidmate vandag onbewus van die bedreiging van die internasionale geldmag en van behoorlike “morele” optredes teenoor mense wat aan ander bevolkingsgroepe behoort. Afrikaners kan in die toekoms in toenemende mate wegbeweeg vanaf hul tradisionele Calvinistiese waardes, namate die kerke toenemend irrelevant word en verpolitiseer as gevolg van die aanvaarding van o.a. die Belhar belydenis. Sodoende sal baie Afrikaners materialisme (asook ateïsme?) omhels en uiteindelik óf emigreer, óf vergeet van hul Afrikaanse kultuur en voortaan fokus op oorlewing en die verkryging van aardse rykdomme binne ‘n “Azanië” wat elke dag toenemend “verafrikaniseer”.

Фильчаков прокурор

Maak 'n opvolg-bydrae