Meer Suid-Afrikaners as ooit voorheen oorweeg dit om die land te verlaat, het Sake24 berig.
Volgens die Grant Thornton International Business Report het 20% van uitvoerende
direkteure van genoteerde en private ondernemings in die eerste kwartaal dit ernstig oorweeg om Suid-Afrika vaarwel te roep.
Nog ‘n peiling van ‘n versekeringsgroep het dieselfde tendens bevestig. Die redes wat respondente gee, is dieselfde in albei peilings: Misdaad, swak onderwys, gebrekkige gesondheidsorg en dienslewering, asook politieke onsekerheid.
Die versekeringsgroep PPS se vertroue-indeks onder gegradueerde beroepslui wat in Suid-Afrika wil bly, het gedurende die jaar met 6 persentasiepunte tot 78% gedaal.
In 2009 het 30% van sakeeienaars wat dit ernstig oorweeg om te emigreer. Dis tans effens minder.
Kommer oor die dalende gehalte van gesondheidsorg en onderwys die afgelope jaar het mense oorreed om emigrasie te oorweeg.
Altesame 45% van die respondente in die peiling se personeellede of gesinslede was in die afgelope jaar slagoffers van misdaad.
Gerhard Joubert, hoof van bemarking by PPS, sê ‘n volgehoue daling sal veroorsaak dat die vaardigheidstekorte in Suid-Afrika styg.
Hy het gesê daar is reeds ‘n ernstige tekort aan dokters, prokureurs en rekenmeesters wat sal toeneem as hulle vrese oor die agteruitgang nie besweer word nie.
Die PPS-peiling toon aan dat net 48% van die gegradueerdes glo die onderrigpeil sal oor die volgende twee jaar verbeter en net 42% glo die werkloosheidsprobleem sal oor die volgende vyf jaar aangespreek word.
Vertroue dat die gesondheidsorgstelsel oor die volgende vyf jaar sal verbeter, het met 5 persentasiepunte gedaal tot 45%. Uit die PPS-peiling blyk dit dat net 60% van gegradueerdes meen hulle het genoeg gespaar vir hul oudag.
