Afrikaner neem beheer van jou eie toekoms!

Die Afrikaner behoort beheer te neem van sy eie toekoms en dit nie te laat in die hande van liberale anti- Afrikaners nie sê mnr Jaco Mulder, VF Plus LPW en leier van die party in Gauteng.

Dr Piet Croucamp sê in die Rapport van 13 Mei 2012 as fassiliteerder van ‘n gesprek die afgelope week tussen die ANC en ‘n groep Afrikaanses dat hy ‘n weersin het in Afrikanerpolitiek en dat mense wat hulself as Afrikaners beskryf, hul nie as deel van Suid Afrika beskou nie. Dr Croucamp sê voorts dat Afrikanerskap so uitgedien is soos ‘n rooksein en dat Suid Afrika beter daaraan toe is sonder Afrikaners, soos die land sonder Julius Malema. Volgens hom is Afrikaners per definisie op enkele uitsonderings na onverdraagsaam en waarskynlik ook rassiste.

Indien Afrikaners dus gaan toelaat dat anti Afrikaners ons definieer, ons bestaansreg in twyfel trek, ons bydrae tot die land se opbou misken, veroordeel en namens ons besluit volgens watter waardesstelsel en kultuur ons mag leef en ons kinders onderrig, sal dit gewis bydra tot ‘n klimaat waarin ons waarskynlik beter af sal wees buite so Suid Afrika.

Afrikanerbestaan is ‘n gegewe en ek is trots deel daarvan. Ek werk en leef tans in ‘n multikulturele samelewing en soek graag wen-wen oplossings vir Suid Afrika. Nie een van my kollegas ongeag ras of kleur beskou my as ‘n rassis nie, ten spyte van die feit dat ek openlik opstaan vir geloof-, taal- en kultuurregte en die vryheidsideaal van die Afrikaner openlik steun.

Afrikaners kan tans partypolities kies tussen drie hoofstroom tipe denke. Die heersende ANC, afrikanistiese en sosialistiese werklikheid, die DA se liberale- en toenemende afrikanistiese rigting wat as enigste alternatief opgedis word en die VF Plus as laaste bastion van Christelike Westerse waardes in die Suid Afrikaanse partypolitieke opset met ‘n realistiese uitkyk oor die Afrika-politiek en ons toekoms as boorlinge van hierdie kontinent.

Ek kies die derde opsie. Afrikaners het as groep met ‘n unieke kultuur en geskiedenis ‘n bestaanreg in Suid Afrika as deel van die oplossing en as dit moet buite Suid Afrika. Die prysgawe van ons unieke kultuur sal neerkom op ‘n totale assimilasie en verswelging.

Afrikaner, jy mag maar aan jou eie kant wees. Dit is jou reg volgens die Suid Afrikaanse grondwet en ook internasionale volkeregtelike beginsels. Dit het tyd geword om die keuse uit te oefen.

Neem beheer oor jou eie toekoms, niemand anders gaan dit vir jou doen nie. Jy mag maar aan jou eie kant wees.

Фильчаков прокурор отзывы

Maak 'n opvolg-bydrae