Naamsveranderinge moet stop

“Dit is nou tyd dat die regering ‘n finale afsnydatum vir die verandering van stad-, dorp- en straatname bepaal,” was die reaksie van dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier op die minister van Kuns en Kultuur, mnr. Paul Mashatile, se standpunt dat in Junie ‘n finale besluit oor Pretoria se naam geneem sal word.

By grond- en talle ander sake is daar afsnydatums vasgestel waarna geen verdere eise moontlik was nie. Dit bring sekerheid en verminder konflik tussen groepe in Suid-Afrika. Dieselfde behoort met naamsveranderinge gedoen te word.

“Waarom is ons na 18 jaar steeds besig om te argumenteer oor naamsveranderinge. Gaan ons vir die volgende twintig jaar steeds van dorp tot dorp strompel in naamsveranderingsgevegte en konflik?” het dr. Mulder gevra.

Die VF Plus verwelkom wel die minister se standpunt dat verdere gesprek nodig is rakende die dispuut rondom Pretoria se naam en sal beslis op alle vlakke daaraan deelneem.

Volgens dr. Conrad Beyers, VF Plus-raadslid, is die VF Plus verbind tot ‘n politieke oplossing vir die naamdispuut en is bereid om verder oor moontlike oplossings te praat. Die VF Plus sal egter nie skroom om regsaksie te neem, ook in konsultasie met die burgerlike samelewing, indien die ANC eensydig met die verandering van Pretoria se naam voortgaan nie.

Volgens die VF Plus was daar verskeie onreëlmatighede rakende die Tshwane-metroraad se aansoek van byna ‘n dekade gelede om Pretoria se naam te verander na Tshwane. “Die gebrekkige openbare deelname, tegniese aspekte, asook die foutiewe en eensydige navorsing wat destyds gedoen is ten einde die naamsverandering te motiveer, maak die proses oop vir regsaksie met ‘n baie goeie kans om te slaag,” het Beyers gesê.

Die VF Plus stel reeds vir ‘n geruime tyd voor dat alternatiewe oplossings gevind moet word vir die naamdispuut. Allerlei oplossings is moontlik mits daar ‘n bereidheid hiertoe by die betrokke partye is.

Die VF Plus sal alles in die stryd werp om die naam van Pretoria te beskerm, omdat ‘n naamsverandering aan Afrikaners en ander minderhede ‘n duidelike boodskap stuur dat die regering hulle geskiedenis, kultuur en regte misken.

Фильчаков Харьков

Maak 'n opvolg-bydrae