Solidariteit het reeds die sake van vier bruin en een wit werknemer van DKD gekonsolideer, wat nou na die arbeidshof verwys word. Die werknemers is Geo-nita Baartman, Linda-Jean Fortuin, André Jonkers, Christopher February en Pieter Dawids. In al hierdie gevalle was die werknemers die beste kandidate vir die poste waarvoor hulle aansoek gedoen het, maar is hulle oor die hoof gesien weens die DKD se beleid van absolute nasionale demografiese verteenwoordiging. Solidariteit voer nou ook met ʼn verdere 26 werknemers gesprekke.
Volgens die DKD se regstellendeaksie-plan moet die nasionale demografie in elke werksplek, selfs op provinsiale en streeksvlak, weerspieël word. In die Wes-Kaap is ongeveer 51% van die bevolking bruin Suid-Afrikaners, waar daar nasionaal slegs ongeveer 8,8% is. Die implikasie van die DKD se strategie is dat daar in ʼn provinsie soos die Wes-Kaap ʼn oorwig bruin Suid-Afrikaners is. In die DKD se strewe om die nasionale demografie te weerspieël, word bruin en wit werknemers by bevorderings en aanstellings oor die hoof gesien.
Verlede jaar het ʼn herrie losgebars oor Jimmy Manyi, die destydse direkteur-generaal van Arbeid en huidige kabinetswoordvoerder, se uitspraak dat daar ʼn ooraanbod van bruin Suid-Afrikaners in die Wes-Kaap is.
Trevor Manuel het in ʼn ope brief gesê dat Manyi se uitsprake nie strook met die letter en gees van die Grondwet nie. Volgens Manuel is Manyi se uitsprake “unconstitutional and morally reprehensible”, sê Solidariteit.
Manuel skryf verder in sy brief: “I want to put it to you that these statements would make you a racist in the mould of HF Verwoerd, I want to put it to you that you have the same mind that operated under apartheid … I have a sense that your racism has infiltrated the highest echelons of government.”
“Mnr. Manuel is reg as hy sê dat Manyi se rassisme die hoogste range van die regering geïnfiltreer het. Dit het, soos by die DKD, die beleid van die regering geword. Ons glo ook dat hierdie idees van Manyi en die beleid van die DKD teen die letter en gees van die Grondwet is,” sê Hermann.
“Ons vat nie regstellende aksie hof toe nie, maar die beleid van absolute verteenwoordiging,” het Hermann gesê. Hy het gesê die beleid behoort nie oor ras te handel nie.
