Ses mense is in hegtenis geneem nadat hulle Saterdagoggend na bewering ‘n stamsaal en kantore afgebrand het en paaie tydens ‘n betoging in Tlhatlhaganyane, naby Rustenburg versper het, het die Noordwespolisie gesê.
Kaptein Pelonomi Makau het gesê die ses was na bewering deel van ‘n groep mense wat protes teen swak dienslewering en die korrupte amptenare van die stamowerheid gehou het.
Hulle het gesê daar is wanadministrasie by die stamowerheid na die dood van hul hoof, Leema Ntuane. Hulle is ook kwaad vir die stamowerheid nadat hulle nie enige terugvoer van die regering gehad het oor wanneer ‘n nuwe hoof aangestel sal word nie.
Die ses sal Maandag in Mogwase se landdroshof verskyn.
