Ope brief aan FW de Klerk

Philip van Staden

Philip van StadenDie oudstaatspresident, FW de Klerk, het die afgelope week ‘n skrywe van stapel gestuur waarin hy gepraat het oor die 1992-referendum van 20 jaar gelede en die tydperk daarna.

Graag wil ek namens jong Afrikaners op mnr.de Klerk se skrywe kommentaar lewer.

Geagte meneer de Klerk

Dit is vir my en mede-Afrikaners van my ouderdomsgroep, en selfs agtien jaar jonger, duidelik dat u dink dat ons nie weet van u dade wat u twintig jaar terug teenoor die Afrikaner gepleeg het nie. Ek wil u graag inlig dat, tydens die 1992-referendum, ons ouderdomsgroep wat nou tussen 35 en 40 is die groep was wat op daardie stadium tieners en jeugdigdes was wat teen u dade in opstand gekom het.

Ons het gesien en beleef waarop u hierdie land afstuur en in u skrywe die afgelope week is dit duidelik soos daglig dat u nie weet wat tans in Suid-Afrika op grondvlak aan die gang is nie. Uit u skrywe kan ek en ander Afrikaners net vermoed dat u sekerlik op u eiland sit, in uiterse veiligheid, en probeer kommentaar lewer op gebeure wat tans in Suid-Afrika aan die gang is. Gebeure waarvan u in die media lees en deur u stigting onder u aandag gebring word. Eerstehandse ervaring van vandag se politieke gebeure? Ek betwyfel dit sterk.

U moet verstaan dat ek myself nie die afgelope 18 jaar, sedert 1994, uit die politieke bestel onttrek het nie maar deel daarvan gebly het om my mense, die Afrikaner, te beskerm teen die daaglikse aanslae van die ANC wat u ontketen het. U verbrousel probeer ons daagliks met baie bloed en sweet regstel.

Daarom meneer de Klerk, gun my nou asseblief die geleentheid, op hierdie openbare forum, om u skrywe van die afgelope week uitmekaar te trek en om die waarheid aan ons jeug te ontbloot.

In die algemene verkiesing van 6 September 1989 het die Nasionale Party, waarvan u die leier was nadat u vir wyle PW Botha as staatspresident vervang het, aan die blanke kiesers ‘n valse boodskap uitgestuur wat geheet het: “NP vir eie skole en eie woonbuurtes”, “Magsdeling Ja – Totale oorgawe Nooit!”. Reeds met hierdie verkiesing het u politieke leuens kop uitgesteek. Daarom dat die Konserwatiewe party beduidende en groeiende steun getoon het en op die punt gestaan het om by ‘n volgende algemene verkiesing u regering by die stembus te verslaan. Daarom dat u by die tussenverkiesings van Virginia en Potchefstroom besef het dat u die volgende algemene verkiesing definitief sou verloor. Die Afrikaner het u verraad finaal agtergekom en u is ontmasker. U het dus nie meer ‘n mandaat van die blanke kiesers gehad om voort te gaan met die grondwetlike onderhandelings nie.

Inteendeel het u regering glad nie meer enige mandaat hoegenaamd oorgehad nie en is u verplig om as staatspresident te bedank. Dus was die Konserwatiewe Party se aansprake uit en uit geregverdig.

Kan ek net u aandag daarop vestig dat die land toe reeds op daardie stadium deurgeloop het onder erge geweld nadat u minder as ‘n jaar gelede vir Nelson Mandela vrygelaat het en die ANC, SAKP en ander verbode organisasies ontban het. Die slag van Boipatong was een van hierdie voorvalle.

Met u besef dat u ‘n volgende blanke verkiesing sou verloor met die sterk steun wat die Konserwatiewe Party getrek het en dat die Afrikaner vir die tweede keer in die geskiedenis sedert 1948 begin saamstaan het, het u besluit om eerder ‘n referendum uit te roep wat u in staat sou stel, om met die kook van uitslae, die land finaal tot oorgawe te dwing.

Meneer De Klerk, u het erge verset onder Afrikaners met uiterste geweld onderdruk. Een goeie voorbeeld hiervan was die slag van Ventersdorp waar u die lewens van verskeie protesgangers daardie aand geneem het. Ek was daardie aand een van die protesgangers en maar net sestien jaar oud. Ek het daardie aand amper my lewe danksy u verloor.

U het met ‘n uitslag van ‘n referendum wat gekook is met ‘n C-span onderhandelinge aangeknoop teen ‘n uiterse opgewasse A-span van die ANC. Kodesa was ‘n plek waar u van alle politieke mag ontslae geraak het en terselfdertyd geonderhandel het om daardie selfde mag weer terug te kry. Hoe onnosel het u nie net te werk gegaan nie? U het om daardie tafel ‘n groot onreg teenoor alle Suid-Afrikaners gepleeg deur elke volk in Suid Afrika van sy magte te stroop en om almal in een nasie in te dwing. Dit alleen was ‘n gruwelike skending van mense regte.

Met u valse verkondiging tydens die 1992-referendum het u inderdaad ‘n blanko tjek ontvang maar die handtekening op daardie tjek het u laat vervals. U het gedink dat die Nasionale party die ANC by die stembus in 1994 kon verslaan maar die ontnugtering het u duidelik oorval. U het op daardie tyd aangekondig dat u binne vyf jaar weer president van die land sou wees. Dit het egter ook nooit gerealiseer nie. U en u span het weer ‘n verdere flater begaan deur in 1996 van die regering van nasionale eenheid te ontrek. Dit was die laaste spyker in die NP se kis. Daarom dat Marthinus van Schalkwyk en Pik Botha hul by die ANC gaan aansluit het. Geld en persoonlike belange was hier ter sprake en nie die toekoms en belang van die Afrikaner of enige ander volk in Suid-Afrika nie.

Mnr. De Klerk, ek is egter vandag oor een ding baie bly en dit is dat u daagliks u flaters en verraad teenoor die Afrikaner kan ervaar en beleef. Die bloed van onskuldige mense wat daagliks vermoor word is aan u hande. Die ineenstorting van infrastrukture, swak dienslewering, korrupsie, misdaad, verkragtings, geweld en die bestaan van ‘n onchristelike land is aan u te danke.

Met u skrywe die afgelope week het u uself probeer verontskuldig aan misdade wat deur u ontketen is. Maar as u gedink het dat die jong Afrikaners, wat vandag moet swaar kry as gevolg van hul velkleur, u as ‘n held gaan beskou maak u ‘n baie baie groot fout. Dit is deur u toedoen dat ons moet deurloop onder regstellende aksie en dat ons nie onderrig in ons moedertaal kan ontvang nie.

Geen poging wat u gaan aanwend om die ANC aan te val of om uself te probeer veronskuldig gaan slaag nie. Geen Afrikaner,veral jong Afrikaners, sal u ooit vertrou nie en daarvoor kan u net uself bedank.

Die Nobelprys vir vrede wat u destyds saam met mnr. Mandela ontvang het moet egter teruggeneem word want dit is met die bloed van miljoene Suid-Afrikaners van alle rasse bevlek.

U is die oorsaak daarvan dat hierdie land vandag in ‘n totale volksmoord gedompel is en u is die oorsaak dat hierdie land afstuur op ‘n kommunistiese regering. Indien u destyds geluister het, en nie agter geld aangehardloop het nie, en elke volk sy selfbeskikkingsreg laat uitleef het, sou Suid-Afrika vandag nog ‘n eerstewêreldland gewees het met ‘n sterk ekonomie, werksgeleenthede en geen armoede en misdaad nie.

Elke volk – Afrikaners, Zoeloes, Sotho’s, Xhosas, Engelse, Tswanas, Vendas, Ndebele ens – sou vandag vrye volke in Suid-Afrika gewees het met volle politieke magte, elkeen met sy eie regering.

Ek sluit af met die volgende.

Mnr. De Klerk, indien u gaan reageer en dit gaan afmaak dat ek ou koeie uit die verlede opper wil ek u graag daarop wys dat u nie daagliks by gevegte op voetsoolvlak betrokke is en u wandade eerstehands ervaar en beleef soos wat ons doen nie.

Indien ons dit gaan regkry om weer om ‘n onderhandelingstafel te gaan sit, sal u defnitief nie weer namens die Afrikaner kan kom onderhandel nie.

Ons jonger geslag sal u nooit kan vertrou of kan vergewe nie.

Baie dankie vir ‘n baie blink toekoms wat u vir Suid-Afrika geskep en tot stand gebring het.

Groete

Philip van Staden
Aktivis en politikus

Die skrywer is ook ‘n Pretoriase raadslid en leier van die VF Plus in die party se Pretoriastreek

лобановский депутат

Maak 'n opvolg-bydrae