Solidariteit sê dat Barclays die opdrag vir die afleggings gegee het.
Die unie SASBO, wat ongeveer 20 000 werkers by Absa verteenwoordig, het belowe om enige moontlike afleggings te beveg.
“Op geen tydstip tydens die gesprekke het die bank afleggings genoem nie, en hulle het belowe as daar enige afleggings is sal hulle met ons konsulteer,” het SASBO se sekretaris-generaal Comfort Duma gesê.
“Die vakbond glo dat die herstruktureringsproses voldoende aangespreek sal word.”
Die vakbond Solidariteit het verlede week in ʼn brief aan Absa daarop aangedring dat die bank oop kaarte speel oor die “herstrukturering” by dié bank.
Dit volg nadat verskeie Solidariteit-lede in Absa se stelselprogrammeringsafdeling in Januarie 2012 skriftelik in kennis gestel is dat hulle funksie met dié van die Africa Technology-span in lyn gebring gaan word. Hierdie herstrukturering sal vereis dat werknemers weer vir hulle poste moet aansoek doen.
Solidariteit hou vol dat dié herstrukturering niks anders as ʼn afleggingsproses is nie, aangesien verskeie Solidariteit-lede reeds gevra is om Absa se perseel te verlaat nadat die maatskappy met hulle beraadslaag het sonder om die vakbond vooraf in kennis te stel.
Die vakbond kon intussen steeds geen verdere inligting oor die herstruktureringsproses ontvang nie, hoewel Absa reeds met die meerderheidsvakbond, Sasbo, daaroor gekonsulteer het.
Volgens Marius Croucamp, woordvoerder van Solidariteit, moet ʼn maatskappy ingevolge artikel 189 van die Wet op Arbeidsverhoudinge met alle vakbonde wat lede verteenwoordig wat deur ʼn afleggingsproses geraak kan word, konsulteer, ongeag die vakbonde se ledetal in daardie maatskappy.
“Indien Absa voortgaan om Solidariteit uit die konsultasieproses te sluit, oortree die maatskappy nie net artikel 189 nie, hy ontneem ook sy werknemers van hulle reg op vrye assosiasie,” meen Croucamp. “Intussen verkeer die werknemers van Absa onder geweldige druk weens onsekerheid oor hulle toekoms by die maatskappy,” voeg hy by.
