“Ons doen ‘n beroep op die ANC om onmiddellik op te tree teen die mense wat geweld aanhits in die ANC,” het die ANCJL se sekretaris-generaal Sindiso Magaqa gesê.
“Ons hoop dat hulle die ANC se provinsiale en nasionale leiers oor hierdie dreigement met onmiddellike effek sal aanspreek, want die uitspraak… is onweerlegbaar buite orde.”
Die opmerking is gemaak deur die Umkhonto we Sizwe Militêre Veterane Vereniging (MKMVA) in KwaZulu-Natal.
“As dit nog die struggle-era was, sou Julius Malema deur ‘n vuurpeloton gedood gewees het vir die wyse waarop hy so onbeskof met die ANC-leierskap was,” het hulle in ‘n verklaring gesê.
Die verklaring is in die Umafrika-koerant vroeër hierdie week gepubliseer.
Magaqa het gesê dit was nie net ‘n wanvoorstelling van die werklikheid en die geskiedenis nie, maar aanhitsing tot geweld teen die liga se leiers.
Hy het gesê dit is nie die eerste keer dat MKMVA-leiers in die provinsie dreig om die ANCJL-lede met geweld te takel en te dood nie.
Hulle moet die stelling terugtrek en om verskoning vra. Indien hulle versuim om dit te doen, sal die liga die saak na die Gelykheidshof en die SA Menseregtekommissie neem, het Magaqa gesê.
