‘n Sestienjarige seun is Dinsdag doodgesteek by ‘n skool in Valhalla Park, Kaapstad, het die polisie gesê.
Die tiener was omstreeks 10:30 in ‘n argument op die skoolgrond betrokke wat gewelddadig geraak het, het lt. kol. André Traut gesê.
Bronagh Casey, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van onderwys, het gesê die seun is op die toneel voor ander leerlinge oorlede. Berading is gereël vir dié wat die moord gesien het. Bykomende sekuriteit sal ook vir die skool gereël word.
Volgens Traut is ‘n 16-jarige seun kort ná die moord in hegtenis geneem. Hy sal binnekort in die hof verskyn.
