PRAAG vra moordsyfers per bevolkingsgroep

Twee Afrikaanse nie-regeringsorganisasies, PRAAG en die Boereleednavorsingsinstituut, het ‘n versoek onder die Wet op die bevordering van toegang tot inligting van 2000 by die Suid-Afrikaanse Polisiediens geliasseer om moordstatistiek volgens bevolkingsgroepe te verkry.

Volgens dr. Dan Roodt, direkteur van PRAAG (die Pro-Afrikaanse Aksiegroep), “heers daar diepe kommer onder lede van etniese minderhede in Suid-Afrika oor die hoë aantal aanvalle en moorde wat daar op hulle gepleeg word. Tot op hede het niemand hierdie inligting aangevra nie en het dit tot wydverspreide spekulasie gelei oor die aantal swart-op-wit moorde wat sedert 1994 gepleeg is.”

Luidens die wet moet die SAPD binne ‘n maand die moordstatistiek beskikbaar stel. “Ons hoop dat die statistiek akkuraat en op datum sal wees, aangesien ons ook klagtes ontvang het dat die polisie nie altyd moorddossiere open nie en soms sulke misdade as huisbraak of mindere oortredings klassifiseer.”

Volgens informele internetpeilings glo die meerderheid Afrikaners dat moorde polities en rasgemotiveer is, in weerwil van ‘n onlangse studie deur die Instituut vir Rasseaangeleenthede wat bevind het dat “slegs 2%” van swart-op-wit moorde van so ‘n aard sou wees.

“Twee persent mag ‘n geringe persentasie wees,” sê Roodt, “maar dit dui steeds op ‘n ernstige hoeveelhede etniese moorde in Suid-Afrika, gegewe ons hoë moordsyfer. Afhangend van die totale aantal moorde tussen rasse in Suid-Afrika, mag onlangse tiperings van plaasmoorde as ‘volksmoord’ geregverdig wees.”

Sowel Boereleed as PRAAG is bekommerd oor amptelike aanvalle op Afrikaanse skole. Roodt sê: “In al die literatuur oor etniese konflik en volksmoord, dien taaldiskriminasie as ‘n vroeë waarskuwingsein oor sodanige konflik. Afrikaanse skole in Fochville is onlangs deur die provinsiale onderwysdepartement vir vyandige optrede uitgesonder. Ek poog tans om ‘n afspraak met die Gautengse LUR vir onderwys, Barbary Creecy, te verkry om die kwessie te bespreek. Indien dit nie ontlont word nie, mag etniese polarisering op Fochville verder toeneem.”

Verlede jaar het PRAAG ‘n klag van aanhitsing tot volksmoord teen Julius Malema aanhangig gemaak by die internasionale strafhof in Den Haag vir die sing van die liedjie, “Maak dood die Boer”. “Ondanks die feit dat ‘n hofbevel dit as onwettig verklaar het, is daar getuienis dat elemente binne die regerende party, waaronder president Jacob Zuma, dit steeds sing,” sê die leier van PRAAG. “Ons sal die internasionale gemeenskap verder oor Afrikanervervolging moet waarsku.”

Фильчаков прокурор харьков

Maak 'n opvolg-bydrae