SA-omgewingsbestuur swakste in Afrika

Suid-Afrika se omgewingsake word gereken as die heel swakste in Afrika, sê mnr Jaco Mulder, VF Plus hoofwoordvoerder oor Water- en Omgewingsake.

‘n Onlangse studie deur navorsers van die Yale- sowel as die Columbia universiteite in die VSA het Suid-Afrika aangewys as een van die lande wat die vinnigste agteruit boer in terme van sy omgewingsbewaring prestasie-indeks.

Suid-Afrika word 128ste gegradeer uit 132 lande in ‘n jaarlikse studie wat handel oor die bestuur van omgewingsake, openbare gesondheid en eko-bioversiteit.

Dit is verder ironies dat Suid-Afrika internasionaal erken word as een van die lande met die mees progressiewe omgewingsakewetgewing. Die studie toon dat Suid-Afrika soos op byna elke geleding oorgereguleer is en dat die regulasies en wetgewing nie geïmplementeer word nie en ook nie toegepas word nie.

Die voortdurende agteruitgang van ons natuur het ‘n direkte negatiewe invloed op mense se gesondheid en welstand. Die regering se lomp hantering van die renosterstropingskrisis en swak bestuur van grond en waterbronne, is ‘n verdere bewys van sy totale onvermoë om omslagtige wetgewing toe te pas, het Mulder gesê.

Die regering mors die tyd van die parlement, wetgewers en belastingbetalersgeld deur wetgewing op te stel sonder dat die kapisiteit bestaan om dit toe te pas.

Die ondergang van Suid-Afrika word stelselmatig bewerkstellig deur ‘n onbeholpe uitvoerende gesag wat gerugsteun word deur ‘n totaal onbevoegde amptenary oud-kaders en politici.

Rolspelers en die publiek moet die regering op drastiese wyse tot verantwoording roep. Dit is tyd dat die regeringstelsel vervang word en dat gemeenskappe op gekoördineerde wyse verantwoordelikheid neem van hul natuurlike hulpbronne.

топкарго

Maak 'n opvolg-bydrae