Mugabe ook by ANC-fees

Alle Suid-Afrikaners, mense van die Afrika-kontinent en die wêreld is welkom om die ANC se eeufeesvieringe by te woon, het Baleka Mbete, nasionale voorsitter van die party, gesê.

“Hulle benodig geen akkreditasie nie,” het sy Woensdag gesê. Die DA sal ook die vieringe bywoon.

Volgens Mbete stel baie mense daarin belang om die gebeurtenis by te woon.

Mbete sê daar sal nie minder as 100 000 mense by die vieringe wees nie.

Sy sê die Vrystaatse inwoners reageer op ‘n positiewe wyse en maak hul huise se deure oop aan talle Suid-Afrikaners wat nie verblyf kon kry nie.

Thandi Modise, adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, sê die meeste van die besoekers sal van die Vrystaat wees.

Die vermaak-program vir die feesvieringe skop Saterdag af. Kunstenaars sluit Selaelo Selota, Ihashi Elimhlophe, Zahara, Bhudaza, Big Nuzz, L’vovo, Spikiri, 340ML, Tidal Waves en Hotstix Mabuza in.

Die eeufeesvieringe se hoof-gebeurtenis vind Sondag plaas.

Daar is slegs 6 000 sitplekke in die Vrystaatse stadion vir presidensiële hoogwaardigheidsbekleërs gereserveer. Die res van die stadion word vir ANC-ondersteuners en burgers oopgehou.

Pres. Robert Mugabe van Zimbabwe, pres. Goodluck Jonathan van Nigerië en die nuutverkose staatshoof van Zambië, Michael Sata, is onder die 40 staatshoofde wat tot dusver bevestig het dat hulle vandeesweek die ANC se 100-jarige herdenking in Bloemfontein sal bywoon.

Die ANC sê oudstaatshoofde wat daar sal wees sluit in Jerry Rawlings en Kenneth Kaunda van Zambië, sowel as eerwaarde Jesse Jackson van die VSA, het RSG berig.

Volgens plaaslike media sal toegang tot die lugruim om Bloemfontein tussen 5 en 10 Januarie streng beheer word, ook met die duidelike toename in lugverkeer.

лобановский александр игоревич

Maak 'n opvolg-bydrae