Lede is daarvan oortuig dat die beëindiging van privaateienaarskap van ekonomiese hulpbronne sal help om die ideaal van “ekonomiese bevryding” te verwesenlik.
“Ons benadruk ons oproep om nasionalisering van myne en ander strategiese sektore soos Sasol en ArcelorMittal,” het Soviet Lekganyane, nuutverkose provinsiale voorsitter, by die Universiteit van Limpopo se Turfloop-kampus buite Polokwane gesê.
Lekganyane het die voorstel, wat later by die konferensie aanvaar is, gelees en gesê: “Alle produktiewe grond moet genasionaliseer word. Vergoeding moenie op die grond self betaal word nie, maar op die verbeterings. Die prys moet deur ‘n evalueerder van die staat bepaal word.”
Dié stappe is nodig om die ekonomie te “demokratiseer”, het hy gesê.
Afgevaardigdes het besluit dat “demokratiese” toegang tot ekonomiese hulpbronne wat deur die staat beheer word, een van die bestanddele van “ekonomiese bevryding” is.
Julius Malema, geskorste leier van die ANC-jeugliga, staan aan die spits van die debat oor nasionalisering, te midde van kritiek uit die opposisiegeledere en landbouliggame wat vrees dat dit buitelandse beleggings negatief sal beïnvloed.
Die regering hou vol nasionalisering nie regeringsbeleid is nie.
