‘n Gewapende Marokkaan het op kersmarkkopers by ‘n markplein in die Belgiese stad Luik losgebrand, waartydens vier mense gedood is.
Die Vlaamse pers kon nog nie die dood van ‘n vyfde slagoffer, ‘n 18-maande-oue baba wat volgens The Telegraph later in die hospitaal oorlede is, bevestig nie.
Die aanvaller het homself om die lewe gebring, het plaaslike media Dinsdag berig.
Twee van die oorledenes was tieners.
Nog 123 mense is in die aanval gewond. Die aanvaller het ook drie handgranate onder die skare inkopiegangers ingegooi.
Beamptes het gesê die skieter, Nordine Amrani (33), ‘n Marokkaan, was ‘n berugte misdadiger wat Dinsdagoggend deur die polisie ontbied is, maar nooit vir sy afspraak opgedaag het nie.
Amrani het glo oor ‘n indrukwekkende wapenarsenaal beskik, waaronder ook ‘n vuurpyllanseerder. Daar is 9 500 wapenonderdele by sy huis gevind.
Die Karachi Post in Pakistan beweer die aanval was gekoppel aan ‘n eremoordgeval.
Openbare aanklaer Danielle Reynders het verklaar dat dit nie ‘n terroriste-aanval was nie. Volgens die BBC is die granate egter vanuit ‘n gebou gegooi. Gerugte doen die ronde dat minstens vier aanvallers betrokke kan wees.
Minister van binnenlandse sake Joëlle Milquet het intussen gesê dat Amrani alleen opgetree het.
Gaspard Grosjean, ‘n joernalis vir La Meuse Liege het aan die Daily Telegraph gesê daar heers paniek in Luik. Hy het bygevoeg dat die polisie op soek is na nog ‘n skieter.
Swaargewapende polisielede in groot getalle het die gebied gefynkam en polisiehelikopters het oor die gebied gevlieg. Ooggetuies sê die atmosfeer is gespanne en voel soos ‘n “oorlogsgebied”.
Volgens berigte het die aanval Dinsdag om 12:30 in ‘n besige deel van Luik gebeur.
Place Saint-Lambert, die markplein waar die aanval plaasgevind het, hou ‘n jaarlikse Kersmark wat deur sowat 1.5 miljoen toeriste besoek word.
