Die president van Botswana, Ian Khama het hom skerp uitgespreek teenoor Afrika-leiers wat weier om met die Internasionale Strafhof saam te werk.
Hy sê dit plaas Afrika, soos hy dit gestel het, aan die verkeerde kant van die geskiedenis. Khama was die spreker by die Internasionale Strafhof se jaarlikse vergadering in New York.
Hy het veral ‘n besluit van die Afrika-Unie vroeër vanjaar om lasbriewe vir die inhegtenisneming van die voormalige Libiese leier Moeamar Gadaffi en ander Afrika-leiers teen te staan, gekritiseer.
Afrika het meer state wat lede van die Strafhof is as enige ander streek. Drie en dertig uit 120 ondertekenaars van die Statuut van Rome, ingevolge waarvan die Internasionale Strafhof in 2002 tot stand gekom het, is Afrika-lande.
Die Hof was egter al in omstredenheid gehul omdat al sy amptelike ondersoeke in Afrika gedoen is. Talle Afrika-leiers sê die vasteland word onbillik behandel.
