‘n Suid-Afrikaanse vrou sal deur die Chinese regering tereggestel word nadat sy dwelms in dié land gesmokkel het, het die eNews-kanaal Sondag berig.
Die swart vrou, Janice Bronwyn Linden (35) van KwaZulu-Natal, is in November 2008 met 3 kg tik gevang en sal na verwagting Maandag met ‘n dodelike inspuiting tereggestel word.
Linden, wat al die moontlike appèlprosedures uitgeput het, is nie bewus daarvan dat sy tereggestel sal word nie.
Die veroordeeldes word eers die oggend van die teregstelling in kennis gestel.
Twee van Linden se susters is in China en sal ‘n uur voor die teregstelling by haar toegelaat word.
Stevens Mokgalapa van die DA het ‘n beroep op President Zuma gedoen om in te gryp om haar vonnis na tronkstraf te versag. Hy het gesê Suid-Afrika onderskryf menseregte, ook internasionaal.
Janice Linden is deur ‘n Chinese hof in Julie 2009 skuldig bevind vir dwelmhandel en is die doodstraf opgelê.
