Onderhandelaars by die Verenigde Nasies se klimaatsamesprekings in Durban sal vandag probeer om op ‘n uitkoms vir die beraad ooreen te kom.
Dit is die laaste dag van die twee weeklange beraad en onderhandelaars sal alles wat bespreek is in oënskou neem.
Sommige lande is optimisties dat die Groen Klimaatsfonds op die been gebring sal word. Dit sal beteken dat 100-miljard dollar per jaar van 2020 af na ontluikende lande gekanaliseer word vir klimaatsprojekte.
Alle oë is egter vandag op die Europese Unie en Noorweë om te sien of hulle sal instem tot ‘n tweede periode vir die Kioto-verdrag, ten spyte van Kanada, Japan en Rusland wat weier.
