Die ANC gaan 2012 met volle krag tegemoet, het die sekretaris-generaal van die regerende party, Gwede Mantashe, Saterdag gesê.
“Ons het ‘n gesonde organisasie… die ANC groei,” het hy gesê by ‘n vergadering van die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) by die Philip Saunder’s-oord buite Bloemfontein in die Vrystaat.
Mantashe se kommentaar volg op onlangse mediaberigte van ‘n moontlike “insinking” in die party.
Jacob Zuma, president van die ANC, het ook ‘n politieke oorsig van die ANC gegee.
Mantashe het gesê die NUK het verslae ontvang van verskeie sub-komitees oor die party se finansies en politieke werwing.
“Die NUK is besig met ernstige werk,” het hy gesê, en bygevoeg dat dit die laaste byeenkoms van die NUK vir 2011 sal wees.
Die komitee het onder meer besluit om die ANC se beleidskonferensie volgende jaar van 26 tot 29 Junie te hou.
