Die Nigeriese owerhede het bevestig dat drie bomaanvalle in die noordelike stad Maiduguri voorgekom het.
Een van die aanvalle het ‘n voertuig geteiken wat aan die gesamentlike polisiemag behoort wat veiligheid in die stad moet handhaaf. Niemand is in die voorval dood nie.
Luidens vroeëre berigte is die radikale Islamitiese groep – Boko Haram – aanspreeklik vir die aanval. Volgens ‘n ooggetuie het lede van die groep met wapens op die toneel aangekom. ‘n Bom het ook tussen die stad en die lughawe naby die konvooi van ‘n goewerneur ontplof.
Owerhede in Nigerië is waaksaam ná die VSA gewaarsku het dat nuwe aanvalle deur ekstremiste in dié land ‘n sterk moontlikheid is.
Dié waarskuwing volg ná ‘n vlaag terreuraanvalle deur ‘n Islamitiese sekte wat al 150 lewens in die noord-ooste van die land geëis het.
Verlede week se aanvalle in die stad Damaturu tel onder die dodelikste wat al uitgevoer is deur die Boko Haram-sekte, ‘n Islamitiese groep wat in die noorde van die land gevestig is.
Die Amerikaanse ambassade in Nigerië het gewaarsku dat die sekte volgende op hotelle of ander teikens in die hoofstad Abuja kan toeslaan, veral tydens die Eid al-Adha-fees.
“Ná die onlangse aanvalle deur Boko Haram, ook bekend as die Nigeriese Taliban, in die Borno- en Yobe-staat, het die Amerikaanse ambassade inligting ontvang dat Boko Haram dalk van plan is om verskeie teikens en hotelle in Abuja aan te val,” het die ambassade gesê.
Personeel van die ambassade is aangesê om dié plekke te vermy en Amerikaanse burgers is gevra om “ekstra versigtig” te wees.
Die Algerynse intelligensiediens het ‘n reputasie van wreedheid, maar doeltreffendheid, en Noordwes-Afrika is hulle turf. Hulle is veral bekommerd oor al-Kaida-splintergroepe in die Islamitiese Magreb.
Die AQIM in Algerië het nie begin as internasionale terroriste nie en het nie oorspronklik iets te doen met al-Kaida nie. Dit was ‘n Algerynse versetbeweging, teen die sekulêre staat.
Die Algerynse weerstandsgroep het kon egter meer waarde toevoeg aan hulle dreigemente teen die staat met hulle nuwe alliansie, en dit is waarskynlik die rede vir die samewerking. Vir al-Kaida weer, kan Algerië as deel van die Afrikanetwerk funksioneer.
