Tolhekdubbelpratery

Die minister van vervoer, mnr. S’bu Ndebele, se vroeëre uitspraak dat die Gauteng-tolprojek tot in Februarie 2012 op ys is, strook nie met sy nuutste verklaring dat die stelsel steeds in Februarie 2012 geïmplementeer sal word indien geen alternatief vir die befondsing van die padopgraderings gekry kan word nie.

Die Vryheidsfront Plus beskou dit as dubbelpratery en skep groter verwarring met die gevolg dat padverbruikers die regering toenemend wantrou. Daar is alreeds baie sinvolle alternatiewe befondsingmetodes aan die regering vanuit die publiek voorgelê.

Volgens adv Anton Alberts, VF Plus-parlementêre woordvoerder oor vervoer, skep die feit dat padgebruikers ook nou al die “e-tag”-transponder kan aankoop ten einde op ‘n laer tarief aangeslaan te word, die indruk dat die tolstelsel wel in Februarie 2012 geïmplementeer gaan word en dat die huidige proses van openbare konsultasie bloot ‘n skyn is om die publiek te paai.

“Dit is boonop ook onduidelik hoe enige prysverlagings wat die minister dalk mag maak op bestaande “e-tags” sal impakteer en of die stelsel sulke soort veranderinge kan hanteer.

‘n Situasie kan in die toekoms ontstaan waar duurder “e-tags” wat nou aangekoop is gebruik word terwyl die amptelike tarief goedkoper is. Dit sou ‘n verbreking van die Wet op Verbruikersbeskerming teweeg bring.

Daarom adviseur die VF Plus padverbruikers om nie nou al die “e-tags” aan te koop nie, maar te wag tot in Januarie 2012 om te sien wat die werklike stand van sake is,” het Alberts gesê.

Die VF Plus gaan voort om die tolstelsel teen te staan en versoek die publiek om deel te neem aan die party se aanlyn protesaksie by www.tolhekpetisie.org.za.

Die VF Plus sal voortgaan om druk op die minister te plaas om die tolhekstelsel heeltemal te skrap en die nodige fondse by wyse van die bestaande brandstofheffing te verhaal,” het Alberts bygevoeg.

Die tolhekinisiatief kom uit die Vryheidsfront wat dit uit die staanspoor gedryf het en dit is verblydend om te sien dat die DA hulself agter dié inisiatief skaar.

Фільчаков Олександр Васильович прокурор

Maak 'n opvolg-bydrae