Duitsland se buitelandse intelligensiediens, die BND, het gehelp om die ligging van afgesette Libiese leier Moeammar Gaddafi voor sy inhegtenisname, presies aan te dui.
Bronne wat vertroud is met die verwikkelinge het aan Der Spiegel vertel wat gebeur het.
Die voortvlugtige voormalige leier se presiese wegkruipplek in sy tuisdorp Sirte was om die waarheid te sê, reeds vir weke lank bekend aan die BND voor sy inhegtenisname en marteldood op 20 Oktober.
Agente binne die organisasie het ‘n lang tradisie van inligtingversameling in die Midde-Ooste, en het daarin geslaag om vas te stel waar die gevalle leier homself weggesteek het van rebellemagte, het die BND-bronne gesê.
Maar geen geo-data wat kon gelei het tot ‘n geteikende lugaanval is gedeel met NAVO nie, het Duitse inligtingsbronne bevestig. Dit blyk dat NAVO-troepe wel ‘n vae idee van Gaddafi se skuilplek gehad het, want toe hy probeer het om uit Sirte te vlug, het Franse vegvliegtuie sy konvooivoertuie aangeval.
Die BND se bedrywighede in die Libiese konflik is nie die eerste keer dat die organisasie in ‘n oorlog betrokke raak nie. Hulle was ook aktief gedurende die oorlog in Irak in 2003. Alhoewel die destydse kanselier Gerhard Schröder heftig ontken het dat die Duitsers ‘n aktiewe rol in die konflik gespeel het, was Duitse agente die tussengangers om intelligensie van Bagdad aan die Verenigde State se amptenare oor te dra.
Op ‘n soortgelyke manier, het Duitsland verkies om nie deel te wees van die stemming tydens die Veiligheidsraadresolusie op 17 Maart nie. Die gebruik van militêre mag om Libiese burgers te beskerm, is deur Duitsland afgewys. Dit was ‘n ongewilde besluit by hulle tradisionele Westerse bondgenote.
Of die BND se intelligensie-pogings om Gaddafi op te spoor onderneem is om die politieke skade te herstel, is nie seker nie, aangesien Gaddafi se marteldood ‘n verleentheid vir die VSA is.
