Zuma waarsku hofsaakmakers dat die stembus praat

Die bevoegdhede van die howe kan nie beskou word as hoër as ‘n mandaat van die meerderheid nie, het president Jacob Zuma gesê.

Dit is nodig om te onderskei tussen die verskillende verantwoordelikhede van die regbank en die verkose takke van die staat, het Zuma Dinsdag gesê tydens ‘n gesamentlike sitting van die Nasionale Vergadering en Nasionale Raad van Provinsies.

Die spesiale vergadering is gehou om afskeid te neem van die voormalige hoofregter Sandile Ngcobo en Hoofregter Mogoeng Mogoeng te verwelkom.

Die uitvoerende gesag, as verkose amptenare, het die uitsluitlike diskresie om die beleid vir die regering te bepaal. Die beginsel van die skeiding van magte beteken die inmenging van een arm van die staat op die terrein van ‘n ander moet ontmoedig word, het die president gesê.

“Ons respekteer die magte en die rol wat toegeken word deur ons Grondwet aan die wetgewer en die regbank,” het Zuma gesê. “Terselfdertyd, verwag ons dieselfde van hierdie baie belangrike instellings van ons demokratiese bestel.”

Die bevoegdhede van die howe kan nie beskou word as verhewe bó die van ‘n mandaat van die mense nie, het Zuma gesê.

Om ondersteuning te bied aan die regbank en die howe om hul werk te doen, sal dit help “as politieke geskille polities opgelos word”.

“Ons moet nie ‘n gevoel kry dat daar mense is wat die land wil saamregeer deur die howe, as hulle nie die nodige stemme tydens verkiesings gewen het nie,” het Zuma gesê.

“Dit sal inmeng met die onafhanklikheid van die regbank.”

“Die geregtelike tak van die regering sal die vertroue van die mense wen net as dit werklik onafhanklik is,” het Ngcobo by die geleentheid gesê. 

Олександр Васильович Фільчаков

Maak 'n opvolg-bydrae