Oostenryk se volkslied is die perfekte viering van die Alpe, ‘n lied wat hulde bring aan die berge en strome, die “vetes” en “gevegte” van sy onstuimige verlede. Die melodie is glo deur Mozart gekomponeer.
Die enigste probleem, volgens ‘n groep vroulike Oostenrykse LP’s, is dat dit verskriklik seksisties is.
Vier-en-sestig jaar na die goedkeuring daarvan, het hulle voorgestel dat ‘n wetsontwerp, wat ondersteun word deur ‘n meerderheid van die LP’s, die lirieke verander om die 51,4% van Oostenrykers wat nie mans is nie, ook te erken.
Die lied se eerste vers, in 1947 geskryf deur Paula von Preradovic, lui dat Oostenryk “groot manne” opgelewer het. Die LP’s wil “en vroue” aan die einde byvoeg, en ignoreer diegene wat kla dat dit nie pas by die wysie nie.
Die derde strofe verwys na ‘n “koor van broers”. Dit, sê die beswaardes, moet verander word na ‘n “vreugdevolle koor”.
Nie almal is gelukkig nie. Carmen Gartelgruber, van die opposisie Vryheidsparty van Oostenryk, meen die idee is bespotlik. “Volgende ding wat iemand sal voorstel is dat die arend op Oostenryk se wapen ‘n grimeersakkie in plaas van ‘n sekel vashou,” het sy tydens ‘n parlementêre debat vroeër vanjaar gesê.
Stefan Petzner, ‘n LP van die regse Alliansie van die toekoms van Oostenryk (BZÖ), het tydens die Wetsontwerp se eerste lees voorgestel dat die lirieke net sowel verander kan word sodat die lied nie verwys na ‘n “land katedrale” nie, maar ‘n “land van dominatrixes”.
Petzner is geen vreemdeling as dit by omstredenheid kom nie. Die 30-jarige politikus het drie jaar gelede vir opspraak gesorg toe hy erken het dat hy die gay minnaar van die voormalige BZÖ leier, Jörg Haider, was. Haider het in 2008 in ‘n motorongeluk gesterf.
‘n Voorlopige besluit oor die lirieke word van die grondwetlike komitee in die Oostenrykse parlement op 22 November verwag. LP’s sal dan in Desember oor die veranderinge stem.
As dit slaag, sal die nuwe weergawe tydens alle amptelike geleenthede gesing word en in al die nuwe uitgawes van die skoolhandboeke verskyn.
Vroeër vanjaar het inwoners van Peru ‘n veldtog geloods om hul volkslied te verander, want dit was te “negatief”.
