Zimbabwe se president, Robert Mugabe het volgens regeringsbronne in die geheim na Singapoer gereis vir mediese behandeling, vir die agtste keer vanjaar, te midde van toenemende bespiegeling oor die gesondheid van die 87-jarige leier.
Politieke waarnemers sê terwyl Mugabe sy 32ste jaar aan bewind nader, begin faksies in Zanu-PF in die openbaar steun werf in ‘n opvolg-stryd.
Die regeringsbronne, wat nie hul name genoem wil hê nie, sê Mugabe en sy vrou Grace het Maandag van Harare na Johannesburg gevlieg, vanwaar hulle op ‘n vlug van Singapore Airlines na Singapoer gevlieg het.
Hy sal na verwagting Sondag terugkeer. Mugabe se woordvoerder wou nie kommentaar lewer nie. Westerse diplomatieke bronne het die afgelope tyd opgemerk dat Mugabe toenemend broos voorkom.
Die amptelike verklaring is dat hy ‘n katarak-operasie ondergaan het, maar gerugte doen die rondte dat hy prostaatkanker het wat versprei het.
