Volkstrots is iets wat in die mense se harte saad skiet en groei. Dikwels is dit iemand wat weens afkoms of ‘n toeloop van omstandighede naatloos in ‘n ander, sogenaamde meerderwaardige kultuur kon opgaan wat aan sy volksgenote wys wat volkstrots is.
So iemand was Franz Liszt.
Min mense word nie deur sy pragtige Liebestraums meegevoer nie, en sy Hongaarse rapsodieë is bekend en gewild.
Hongarye, asook ander dele van Oos-Europa was lank in wese ondergeskikte kolonies van Oostenryk. Hoewel die Hongare later in teorie dieselfde status as die Oostenrykers geniet het, was die situasie nie altyd so nie. Om werklike aansien in Oostenryk-Hongarye te kom geniet, moes die persoon naatloos in die Duitssprekende gemeenskap kon inskakel, en met die Oostenrykse kultuur geassosieer word.
Trouens die bevordering van Hongaars in die Koninkryk van Hongarye – ‘n onderdeel van die Oostenryk-Hongaarse keiserryk – het maar sowat twee dekades voor Liszt se geboorte begin en was ‘n teenreaksie op keiser Joseph II se poging om Hongarye te verduits.
Liszt was self van Duitse afkoms. Trouens, sy geboortedorp, Raiding, is vandag deel van Oostenryk, sy ma was ‘n Ooostenryker en Liszt self was nooit behoorlik, soos sy pa, onderlê in Hongaars nie. Franz se pa, Adam, het hul van na Liszt verander om dit te verhongaars, en sy oupa, Georg, het sy van eers so verander na die jong Liszt befaamd geraak het. Franz was ook deel van die Neudeutsche Schule (Nuwe Duitse skool). Hy was boonop ‘n wêreldreisiger en as knap pianis het hy die eerste suksesvolle solo-opvoerings gehou, selfs in Londen. Hy het lank in Parys en in die gerekende musiekstede van Italië gewoon.
Tog het Liszt, na ‘n afwesigheid van twee dekades, met sy terugkeer na Hongarye in Frans geskryf: “Dit sal aan my gegun moet word, dat ten spyte van my gebrekkige kennis van Hongaars, ek van geboorte tot die graf in my hart ‘n Magjaar is.” Die Magjare was die oosterse volk waaruit die Hongare ontstaan het. Een van die redes vir Liszt se liefde vir die Hongare was dat welgestelde Hongare deur die musiektalent van die Duitssprekende seun beïndruk is en vir sy musiekstudies betaal het.
Volkstrots leef in die hart eerder as afkoms. Vader Kestell, wie se pa ‘n Engelsman van Devonshire was het tydens die Anglo Boere Oorlog deel van die Vrystaat se regering ter velde uitgemaak saam met pres. MT Steyn en generaal CR de Wet.
‘n Mens kan lojaal aan sy kulturele wortels bly, selfs al het omstandighede dit so beskik dat ‘n mens naatloos by ‘n dominerende en skynbare meerdere kultuur kan inskakel – dit maak ‘n mens gewoon ‘n beter mens.
Die Afrikaanse kultuur hoef geen duit vir enige kultuur terug te staan nie.
Afrikaanssprekendes was pioniers met hartoorplantings, kernfisika en vele meer. Geen poging wat Julius Malema aanwend om die Afrikaner te verneder, gaan slaag nie – dit gaan eerder die Afrikaner sy rug laat styf maak. By wyse van spreke sal die pensklavier kort voor lank sy plek in simfonieorkeste vind.
