“Daarbenewens moes die interparty-koalisie tussen die VF Plus, Cope, DA, ACDP en die OD in die Gautengse Wetgewer dit vir die minister en die ANC duidelik gemaak het dat mense oor ‘n wye front teen die tolheksisteem gekant is. Die VF Plus sal egter voortgaan om druk op die minister te plaas om die tolheksisteem heeltemal te skrap en die nodige fondse by wyse van die bestaande brandstofheffing te verhaal” het Alberts bygevoeg.
Intussen het die VF Plus sedert die her-loodsing van sy aanlyn-protesaksie binne ‘n week alreeds 5700 nuwe handtekeninge bygekry. Volgens adv. Anton Alberts is dit ‘n bewys dat die publiek se teenkanting teen die Gauteng-tolprojek steeds groei. “Die Vryheidsfront Plus het ook in ‘n massa e-pos aan die petisie-ondertekenaars gevra of hulle bereid sal wees om aan openbare protesaksie deel te neem. Om en by 10 000 mense het al positief geantwoord dat hulle so ‘n aksie sal steun,” het Alberts verder gesê. “Indien die regering sal voortgaan met die aktivering van die tolstelsel, gaan hulle wesenlike openbare teenstand kry tot so ‘n mate dat massa publieke ongehoorsaamheid ‘n moontlikheid is.”
Die VF Plus het ook sy tevredenheid uitgespreek teenoor die besluit van die regering om nog ‘n taakspan aan te stel om die Gauteng-tolprojek verder te ondersoek. “Dit is egter jammer dat die publiek geen verteenwoordiging op hierdie komitee het nie, maar dit is verblydend dat die adjunkminister van vervoer, mnr. Jeremy Cronin, erken het dat die tolstelsel nie sinvol is as metode om die land se nuwe paaie en instandhouding te finansier nie,” het Alberts bygevoeg.
Dit blyk nou dat die regering uiteindelik die belastingbetaler en padverbruiker se rasionele stem begin hoor. Die VF Plus sal egter saam met ander partye voortgaan om druk op die regering te plaas ten einde hierdie tolstelsel te stop.
