Alles het begin toe daar Sondag ’n ongeluk tussen ’n polisievoertuig en ’n motorfiets met twee jeugdiges in Villiers-le-Bel plaasgevind het. Die twee Noord-Afrikaanse tieners is op slag dood. Geweld het dieselfde aand nog in hierdie immigrantebuurt uitgebreek. Jong mans, almal uit Afrika afkomstig, het motors, asblikke en geboue aan die brand gesteek en polisiemanne aangeval. Die geweld het intussen uitgebrei van Villiers-le-Bel na vyf ander arm buurte buite Parys en ook na die immigrantebuurte van Toulouse, in die suide van Frankryk. Maandagaand is die munisipale biblioteek in Villiers-le-Bel afgebrand, asook ’n kleuterskool, verskeie restaurante en ’n motorhandelaar se winkel. Jongelinge het in brandende motors gespring en daarmee in geboue vasgery om brande te veroorsaak. Die verskil tussen die opstande van die 2005-opstande en die huidige geweld, is dat daar tans nie net meer klippe gegooi word nie. Jeugdiges skiet nou sonder skroom op polisiebeamptes. Sowat 1000 addisionele polisiemanne is gister na Villiers-le-Bel gestuur om die orde te probeer herstel.
Die owerhede het tot dusver streng opgetree. Agt jeugdiges is Dinsdag skuldig bevind en tot tronkstraf van 3-10 maande veroordeel. Gister het polisiehelikopters oor Villiers-le-Bel gesirkel en skerp ligte laat skyn in woonstelblokke om jeugdiges te keer om die geboue te verlaat. Maandag alleen is 70 motors in hierdie buurt aan die brand gesteek en 82 polisiemanne beseer, 10 van hulle deur koeëls. ’n Totaal van 120 polisiemanne is die afgelope drie dae in Parys en Toulouse beseer.
