Die ANC-jeugliga sal in Oktober die strate invaar om die nasionalisering van myne en ‘n gelyke aandeel in die land se minerale hulpbronne op te eis, het Floyd Shivambu, woordvoerder, Woensdag gesê.
“Die ANCJL neem dié stap weens ons sterk oortuiging dat die verbetering van Suid-Afrikaners se lewens nie in raadsale en eindelose onderhandelings met groot kapitaal gaan gebeur nie,” het Shivambu Woensdag in ‘n verklaring gesê.
Die mobilisering – wat vir 27 en 28 Oktober beplan word – sal by die Kamer van Mynwese begin, beweeg tot by die Johannesburgse aandelebeurs en eindig met ‘n nagwaak by die Uniegebou in Pretoria.
Die liga sal ook ‘n versoekskrif aan owerhede oorhandig waarin hulle gratis onderwys, die onmiddellike afskaffing van arbeidsmakelaars, werksgeleenthede vir die jeug, beter behuising en sanitasie vir mense in lokasies en toegang tot water eis.
“Dit is hoogtyd dat ons die hele Suid-Afrika se jeug mobiliseer asook progressiewe magte om werksgeleenthede en ‘n gelyke aandeel van Suid-Afrika se rykdom van groot sake-ondernemings en korporasies op te eis, wat tot nadeel en uitsluiting van die histories benadeeldes bedryf word.”
Shivambu het verklaar dat “broederorganisasies” ook genader sal word om deel te wees van die massa-aksie. Dit sluit werkloses, armlastige studente, plakkers en mense sonder basiese dienste in. Alle takke van die ANCJL regoor die land sal na verwagting hul gemeenskappe mobiliseer en na Johannesburg reis vir die opgtog.
“Hierdie is die wekroep vir alle ekonomiese vryheidsvegters dat totale bevryding en emansipasie van die onderdruktes en uitgebuite mense van Suid-Afrika nie slegs in raadsale en konferensies sal gebeur nie.” Shivambu het gesê “Die mense sal opstaan en opeis wat regmatig aan hulle behoort.” Hy het in sy verklaring verwys gesê Suid-Afrika behoort aan wit en swart.
Geen provinsiale optogte word beplan nie.
