‘n Globale konferensie onder beskerming van die Verenigde Nasies oor “nie-oordraagbare siektes” het gister in New York begin. Hierdie siektes word grotendeels deur menslike gedrag veroorsaak, soos rook, oormatige drankgebruik, ‘n ongesonde dieet en gebrek aan oefening.
Die sogenaamde “groot vier” siektes maak meer mense in die ontwikkelde wêreld dood as MIV en malaria in Afrika. Die “groot vier” behels: kardiovaskulêre siektes, kankers, chroniese asemhalingsiektes en suikersiekte. Weens ekonomiese groei en groter welvaart is hierdie siektes egter ook besig om na voorheen arm lande te versprei en kan die wêreld se gesondheidstelsels daardeur oorweldig raak op ‘n veel groter skaal as wat die Vigs-pandemie kon veroorsaak.
Mnr. Michael Bloomberg, burgemeester van die gasheerstad, New York, het reeds verskeie innoverende maatreëls getref in ‘n poging om sulke mensgemaakte siektes in sy stad te verminder. Sogenaamde “trans-vette” in kos word reeds in die stad verbied, asook rook op openbare plekke. Restaurante en kafees word verplig om kilojoule-waardes van disse te publiseer en gesondheidswaarskuwings moet op versoete koeldranke aangebring word. Argitekte en konstruksiemaatskappye word insgelyks aangemoedig om geboue te ontwerp wat mense eerder trappe laat klim as hysbak ry.
In Frankryk het ministers ‘n nuwe belasting op Coca-cola en ander versoete drankies aangekondig wat van die begin van aanstaande jaar gehef sal word. Soortgelyk aan aksynsbelasting op sigarette en alkoholiese drank, wil die regering sodoende verbruikers ontmoedig om te veel suiker in te neem. Nie net mag dit die gewigsprobleme van die bevolking aanspreek nie, maar ook broodnodige euro’s na die Franse staatskoffers laat vloei, na raming ongeveer 120 miljoen euro per jaar.
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is 36 miljoen uit die 57 miljoen wêreldwye sterftes in 2006 deur NOS’e (nie-oordraagbare siektes) veroorsaak, waarvan die meeste in ontwikkelde lande plaasgevind het. Dit tref veral mense onder 60 en veroorsaak enorme kostes.
Sommige lande bestee reeds 7% van hul bruto binnelandse produk aan hierdie voorkombare siektes wat grootliks deur sigarette, alkohol, ‘n swak dieet en gebrek aan oefening veroorsaak word.
Die konsepverklaring wat deur die VN opgestel is om sterk maatreëls teen NOS’e te bevorder, is egter intussen afgewater. Blykbaar fokus die verklaring tans veral op maatreëls teen tabak, wat deur sommige tabakproduserende lande teengestaan word.
Maar volgens Ann Keeling, uitvoerende beampte van die NOS-alliansie, wat nie-regeringsorganisasies teen die siektes verteenwoordig, is “alles nie verlore nie. Daar is besonder sterk verklarings in die teks wat twee jaar gelede onvoorstelbaar was.”
Nogtans is daar geen spesifieke teikens in die verklaring nie, asook geen verbintenis om die inname van sout te verminder wat ‘n bewese oorsaak van hartvatsiektes is nie. Die verklaring bevat ook min verwysings na die vermindering van alkoholverbruik deur hoër pryse, belasting en ‘n uitdruklike verbod teen die bemarking daarvan aan kinders.
Hierdie halfhartige verklaring staan in sterk kontras met die ander wêreldkonferensie teen vigs wat tien jaar gelede deur die VN gereël is om die 32 miljoen lyers aan dié siekte se lot te verbeter.
Die Londense hoof van die Britse skool vir higiëne en tropiese medisyne en ‘n voormalige hoof van die VN se vigsagentskap, Peter Piot, meen dat streng maatreëls nodig is: “Al is ek meer met vigs gemoeid, is ek daarvan oortuig dat nie-oordraagbare siektes die grootste bedreiging vir globale gesondheid verteenwoordig. Dit mag die rug van gesondheidsdienste breek.”
