Dis miskien toepaslik die krities na die hele proses te kyk.
Die eerste vraag is waarom die strewe na selfbeskikking?
Met die politieke oorgang (noem dit oorgawe, verbreding van demokrasie of bevryding, of net wat jy wil) was die regse blankes nie bereid om aan die verkiesing deel te neem nie. Baie van ons onthou nog die voorbereidings vir oorlog en sommiges sit nou nog met kerse en boeliebief wat daardie tyd opgegaar is.
Genl Viljoen het die Vryheidsfront kort voor die verkiesing gestig en aan die verkiesing deelgeneem. Hy het gevra dat almal wat in selfbeskikking glo vir die Vryheidsfront moet stem en meer as een miljoen stemme gekry. Die verkiesing was vreedsaam en wettig en die NSA was gebore.
Gerugte van CIA betrokkenheid is gou gesmoor.
Die Vryheidsfront se manifes verbind hom onlosmaaklik tot die verkryging van ‘n selfregerende gebied. Hierdie strewe word dan ook in die nuwe grondwet ingeskryf.
Soos die jare aanstap word leiers vervang en ou doelwitte word minder beklemtoon.
Met die aanstelling van Dr Pieter Mulder as adjunkminister word ‘n politieke dobbelspel gespeel. Aan die een kant is landbouers wat die strooihalm wat na hulle uitgesteek word, verwelkom en aan die ander kant is diegene wat verraad sien.
Dit bring nietemin ‘n mate van gerustheid en nuwe verdraagsaamheid teenoor die landbou in die algemeen.
As die bedoeling egter was om verdeeltheid onder Afrikaners te bring, was dit ‘n hoogs geslaagde politieke maneuver.
Die steun vir die VF+ daal merkbaar en persepsie is dat die sterwe na selfbeskikkiging besig is om te taan.
En die VF+ verwerf die besondere eer om op Wikileaks te beland.
Intussen is ander buite-parlementere groepe ook volstoom besig met hul eie planne. Die Oraniabeweging demonsreer op ‘n praktiese wyse dat moontlik is om met eie arbeid ‘n homogene samelewing in stand te hou, die VVK werf landwyd lede vir ‘n verkiesing en laatkommer OASE stel ‘n nuwe variasie van ‘n ou kaart bekend vir ‘n volkstaat. Afriforum gebruik die howe om hulle standpunt te versterk.
Dit bring ons by die volgende vraag. Wie is die Afrikaner? Wie gaan ingesluit word en wie gaan ingesluit word? Wie gaan besluit wie is aanvaarbaar en wie nie?
Voorheen bevoordeelde persone van Europese herkoms, of Afrikaanssprekend of enigeen wat die vryheidsideaal ondersteun is enkele omskrywings.
Omdat Salamo nie meer met ons is nie kan ons maar net hoop vir wysheid.
Die laaste vraag is : Waar is die gebied en hoe groot is dit?
SA is rofweg twee miljoen vierkante km groot met 50 miljoen inwoners. Dit gee ons vier hektaar per persoon. As ons die 30 000 gerigestreerde kiesers van die VVK as maatstaf gebruik kan ons aanspraak maak op 120000 hektaar. Ek ken boere wat alleen op groter grond boer.
Ten slotte sal ons moet begin saamstaan. Ons sal ons doel net kan bereik as ons saamstaan. Die reg op selfbeskikking is in die grondwet vervat. Ons moet egter self die wie , wat en waar bepaal.
Rassisme sal nie die saak bevorder nie. Die sukseskans van die geweldopsie vervaag ook soos die tyd aanstap. Baie van ons sal nie meer lekker in die ratels inpas nie. Dus bly net onderhandeling en die regsproses oor.
Dis waarom dit so belangrik is om onsself van rassisme en neerhalende opmerkings te weerhou. Ek en jyself en jou ma weet hoe wonderlik ons is. Jy gaan egter met mense moet onderhandel oor vryheid wat ander dinge op skool geleer het.
Ek hoop dit kan bydra tot die debat
