Twee polisiemanne is Dinsdag in hegtenis geneem toe hulle geld by ‘n motoris in Dobsonville, Soweto, geëis het, het die polisie in Gauteng gesê.
Die beamptes, onderskeidelik 36 en 40 jaar oud, het Maandagmiddag ‘n motor van die pad afgetrek en probeer om die bestuurder af te pers deur R10 000 te eis nadat hulle aan hom gesê het die motor is onpadwaardig, het lt. kol. Katlego Mogale gesê.
Hy het R3 000 aan hulle gegee en belowe om die res van die geld Dinsdag by ‘n afgespreekte plek aan hulle te besorg. Hy het egter daarna na ‘n polisiekantoor gery en die twee gerapporteer.
Een van die beamptes is in hegtenis geneem toe die polisie hom aangetref het waar hy op die afgespreekte plek gewag het vir die bestuurder om die res van die geld te oorhandig.
Die ander beampte is in Kagiso naby Randburg in hegtenis geneem.
