In ‘n meningspeiling op timeslive.co.za dink byna 70% van die stemmers dat pres. Jacob Zuma se posisie in gevaar gestel word deur die opkoms van die Jeugliga.
Vir Praaglesers is dit natuurlik ou nuus dat die gewelddadige oproepe van die ANC-jeugligapresident Julius Malema aan sy ondersteuners verreikende gevolge vir Suid-Afrika gaan inhou.
Die gedurige gepaai van Naspers se meningsvormers en hulle naïewe geloof dat Malema se aandrange deur “wigte en teenwigte” gestuit gaan word, is weer eens deur die peiling weerlê. Die wonder van demokrasie gaan binnekort by ons liberale sprokieskrywers kom spook.
Vandaar die noodsaak om behoorlike beplanning vir Afrikaners se toekoms van stapel te stuur. Saterdag, 3 September, se vergadering oor Afrikaneroutonomie by die Centurion-raadsaal is daarom beslis die moeite werd om by te woon.
Die skrif is aan die muur, ook vir die goedgelowiges onder ons.
Die uitvoerende hoof van Johannesburg se Kamer van Koophandel en Nywerheid, Keith Brebnor, sê Dinsdag se finansiële verliese vir Johannesburg word tussen R30 miljoen en R50 miljoen beraam, maar het gewaarsku dat die ware monetêre verlies minimaal is in vergelyking met die werklike skade, beeldskade, wat die land opgedoen het.
Hy het gesê dat Dinsdag se chaos by ‘n lang lys van ontwrigtings gevoeg kan word “wat die persepsie versterk dat die land meer onstabiel as ‘n handelsvennoot raak. Dit hoef nie waar te wees nie, maar persepsies is die werklikheid,” sê Brebnor.
“Al die goeie dinge [persepsies] wat ons opgebou het rondom die Wêreldbeker-sokkertoernooi, het ons verloor.”
African Rainbow Minerals se uitvoerende voorsitter, Patrice Motsepe, het ook die nasionaliseringsdebat gekritiseer.
Dawie Roodt van die Efficient-groep sê: “Ons moet onthou internasionale beleggers skuld ons niks. Hulle sal belê in ‘n land met ‘n stabiele politieke situasie en dit is nie wat ons nou sien nie,” sê Roodt.
Hy het gesê dis ‘n duidelike boodskap dat die kabinet en die president nie beheer oor die situasie het nie. Bewyse hiervoor, sê Roodt, is hoe Dinsdag se chaos internasionale hoofopskrifte gemaak het.
Die Financial Times het gesê Malema se plan om minstens 60% van die land se myne oor te neem, is ‘n risikoskuif wat die regering bankrot kan laat en die land se appèl as ‘n beleggingsbestemming kan vernietig.
The New York Times stel die probleem nog helderder: “Terwyl hy [Malema] sy steun bewys het, het hy uiteindelik potensiële buitelandse beleggers vervreem asook lede van die land se groot wit minderheid.”
Laasgenoemde slaan die spyker op die kop. Die wit Afrikanerminderheid, die grootste minderheid, is egter nie alleen vervreem deur Dinsdag se chaos of onlangse oproepe van “Kill the Boer” nie, maar ook deur taaldiskriminasie, regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging, ongebreidelde swart rassisme en konstante verguising deur wit sowel as swart tenderpreneurs, plaasmoorde en owerhede wat in weerwil van hierdie felle aanslag, steeds afsydig staan.
Vir groot getalle Afrikaners wat lankal ekonomies na die bestaansvlak en plakkerskampe gerangeer is, asook vir diegene onder ons wat hul erfenis en nalatenskap koester, is beleggersvertroue nie vreeslik hoog op die agenda nie.
Die ideaal van onafhanklikheid en selfbeskikking is wel, want dit is die enigste uitweg uit die toekoms wat Julius Malema voorhou.
