Die Vryheidsfront Plus verwerp die pogings van verskeie vakbonde en ANC-lede in die parlementêre portefeuljekomitee oor mineralebronne om wit vroue en Chinese as bevoordeeldes uit die bemagtigingshandves van die mynbousektor uit te skryf.
“Hierdie poging is deel van ‘n breër tendens om minderhede uit die ekonomiese hoofstroom te rangeer, soos voorheen verwoord deur onder andere Julius Malema en Jimmy Manyi. Voorheen was Afrikaners, blanke mans, bruin mense en Indiërs onbillik geteiken en nou moet wit vrouens, Chinese en Suid-Koreane hoor hulle arbeid, vaardighede en geld is nie goed genoeg nie. Indien die staat die mynwese teen buitelandse plundering wil beskerm, kan spesifieke maar gebalanseerde maatreëls getref word om te sorg dat Suid-Afrikaners bevoordeel word in elke buitelandse beleggingskontrak.
Die poging om wit Suid-Afrikaanse vrouens egter te teiken vir diskriminasie is ‘n aanduiding van die ras-psigose waarin die ANC hom toenemend bevind. Indien ekonomiese oorlewing en vooruitgang vir Suid-Afrika die ANC se ware beleid is, sal ‘n meritokrasie die enigste pad wees om te stap,” het adv. Anton Alberts, VF Plus-parlementêre woordvoerder oor mineralebronne, gesê.
Die VF Plus wil ook verneem hoe die voorstellers van die wysiging gaan vasstel wie “swart mense” is indien hulle die definisie “histories benadeelde mense” daarmee wil vervang. Daar is geen wetgewing wat kan bepaal wie “swart” is al dan nie. Die ANC moet eerder begin besef dat ‘n inklusiewe ekonomie sonder strukturele rassediskriminasie die enigste pad vorentoe is vir die daarstel van ‘n dinamiese ekonomie wat groei en werk skep vir almal in Suid-Afrika.
