Die Vryheidsfront Plus in Pretoria het tydens ‘n sitting van die Pretoria-streeksraad in Centurion, ’n drastiese besluit geneem wat selfbeskikking as die enigste opsie op die tafel plaas.
Tydens die algemene vergadering het die streekleier, rdsl Philip van Staden, in ‘n voorlegging aan die streeksraad dit baie duidelik gemaak dat die VF Plus in Pretoria daadwerklik uiting moet gee aan artikel 185 en 235 van die Suid-Afrikaanse grondwet, Wet nr 108 van 1996. Volgens Van Staden is hierdie twee artikels nie om dowe neute in die grondwet ingeskryf nie en dat selfbeskikking hoog op die agenda geplaas moet word en dat daar drasties uiting gegee moet word om gemeenskaplike selfbeskikking toe te pas en te laat slaag. Dit is die enigste uitweg vir die Afrikaner om in die huidige politieke bestel in Suid-Afrika te oorleef. Hy het ook genoem dat gemeenskaplike selfbeskikking, of selfbeskikking in geheel, nie teen die grondwet van die land is nie en dat die twee artikels in die Suid-Afrikaanse grondwet nou in gebruik geneem moet word.
“Sestien jaar gelede is artikel 185 en 235 in die Suid-Afrikaanse grondwet ingeskryf. Vandag moet ons daarvan gebruik maak. Nie almal van ons kan in Orania gaan bly of selfs immigreer nie, daarom dat ons moet uiting gee aan selfbeskikking binne ons eie plaaslike gemeenskappe waar ons elke dag woon en werk,” het Van Staden gesê.
Die Streeksraad van die Vryheidsfront Plus in Pretoria het hierdie voorstelle aanvaar en daar sal nou daadwerklik begin word om gemeenskaplike selfbeskikking of selfbeskikking in die geheel ‘n werklikheid in Suid-Afrika te maak. Die kiesers wat die afgelope munisipale verkiesing vir die VF Plus in Pretoria gestem het, het vir die party ‘n mandaat gegee om die weg na selfbeskikking te baan. Tydens die vergadering is ook nuwe aksieplanne op die tafel geplaas wat die party gaan gebruik om sy ondersteuningsbasis onder die Afrikaner drasties uit te brei. Die streeksraad van die Vryheidsfront Plus bestaan uit drie afgevaardigdes van elke tak en die party beskik tans oor veertig takke in die Pretoria-streek.
