Malema sweer wraak oor ‘kaffers’

Narysec-rekrute

Narysec-rekruteJulius Malema, die ANC-jeugleier, oorheers steeds die afgelope paar dae se opskrifte in die media. Times Live berig dat Malema op Queenstown voor die hof gesê het: “Hulle (wittes) moet betaal omdat hulle ons slawe gemaak het, ons moet hulle straf. En nou moet hulle boet. As ons dit nie doen nie, betaal ons hulle omdat hulle ons kaffers noem.

“Hulle moet die feit besef dat ons hulle vergewe het, maar moet weet dat ons nooit sal vergeet nie.”

Malema het ook herhaal dat die vrywillige-koper-vrywillige-verkoper-beginsel uitgegooi moet word. Intussen word elders berig dat die eerste 1000 jong rekrute van die ANC môre by die Vlootbasis op Saldanha vir militêre opleiding sal aanmeld. Hulle sal as “landelike jeugwerkers” opgelei word. Volgens die departement van landelike ontwikkeling behels dit “opleiding in grond- en landbouhervorming, landelike ontwikkeling, asook karakterontwikkeling, bestuurs- en tegniese vaardighede”.

Malema het voorheen Zimbabwe besoek om daar inligting in te win oor hoe grondhervorming toegepas word. Vanaf 1 Oktober sal ‘n verdere 1000 rekrute opgelei word. Volgens die woordvoerder van die departement van landelike ontwikkeling, mnr. Eddie Mohoebi, sal elke rekruut ‘n salaris van R1 320 per maand ontvang, tesame met vervoer, voedsel en verblyf. Die ouderdomme van die rekrute wissel tussen 18 en 35 jaar en hulle sal ongeveer twee maande lank by ‘n weermagbasis basiese opleiding ontvang.

Sowel die DA as Afriforum het intusen op die nuus gereageer. Mnr. David Maynier, die DA se woordvoerder oor militêre kwessies, het die program bestempel as “’n reuse-risiko vir die weermag omdat dit te maklik as agterdeur vir militêre opleiding vir die ANC-jeugliga gebruik kan word”.

“Die staande komitee is nog nooit hieroor ingelig nie,” het Maynier voortgegaan en sy voorneme uitgespreek om mnr. Jerome Maake, voorsitter van die komitee, te vra om ’n vergadering te belê oor die opleiding van rekrute van die departement landelike ontwikkeling en grondhervorming.

“Die weermag is nie verantwoordelik vir die werwing van dié rekrute nie. Hoe weet die weermag dus hulle kom nie inderdaad uit die geledere van die ANC-jeugliga nie?

“Suid-Afrika kan nie bekostig dat die onpartydigheid van die weermag in die gedrang kom nie.”

Afriforum beplan om môre ‘n hofaansoek te bring om meer inligting oor die jeugopleidingsprogram te bekom. Volgens mnr. Willie Spies, prokureur van Afriforum, het hulle vrae oor die volgende:

  • hoe lede gewerf is om aan die opleidingsprogramme deel te neem;
  • of die individue wat opgelei word by enige politieke party of ’n spesifieke organisasie geaffilieer is;
  • hoe Narysec (die afkorting vir die landelike jeugmag) saamgestel is en wat die doel van die liggaam is;
  • wat die grondwetlike dokumente of bemagtigende wetgewing ten opsigte van dié organisasie is;
  • wat die presiese programinhoud en leermateriaal is wat vir opleiding gebruik word;
  • watter vakke by die opleiding ingesluit word.

Blykbaar is 8000 rekrute reeds vir dié tipe opleiding geëien en gaan hulle twee jaar lank daarmee besig wees.

Mnr. Floyd Shivambu, woordvoerder van die ANC-jeugliga, beantwoord nie tans oproepe van die media oor die saak nie.

Die liga se leier, Julius Malema, het enkele dae gelede besoek aan die landdroshof op Queenstown gebring waar mnr. Gerdus Greyvenstein teregstaan weens drie skote wat hy op Siyambonga Ndabeni gevuur het, blykbaar tydens ‘n woordewisseling oor Malema. Ndabeni is in die bors gewond.

Benewens sy uitspraak dat blankes “moet boet”, het Malema teen die media uitgevaar en joernaliste as ongeletterd en opgevoed beskryf. Hulle is ook nie in staat om die hoë standaarde van die ANC-jeugliga te handhaaf nie.

Volgens Malema word hy deur die media geteister. “Vandat ek president van die jeugliga geword het, laat hulle my nie met rus nie. As ek toilet toe gaan, volg hulle my. Hulle sê: ‘Hy het toilet toe gegaan, maar nie gek** nie.’ Klein breine wat mense bespreek en nie kwessies nie ly aan die verstand van ‘n rot. Ongeletterde, onopgevoede joernaliste is nie in staat om die jeugliga se standaarde te haal nie.”

Oor sy trustfondse van miljoene rande, het Malema gevra: “Hoeveel leiers beskik oor trustfondse? Kyk na Tokyo (Sexwale) en sy miljoene. Hierdie rekening help die armes.

“As iemand aan my omkoopgeld betaal het, waar is die kwitansie? Daar moet ‘n papierspoor wees. Jy kan daardie geld opspoor,” het hy gesê.

Malema het uitgevaar teen die anonieme persoon wat beweer het dat hy geld in sy familietrust inbetaal het: “As daar ‘n bobbejaan is, kom verduidelik aan my, jou lafaard.

“Jy het nie ‘n gesig nie, jou verdomde aap. Ek sal aan jou verduidelik waar jy jou geld kan opdruk en dit sal ‘n stink plek wees.

“Watter tipe onverantwoordelike persoon sou ek wees om my seun en ouma se naam by onwettige bedrywighede te betrek?”

Malema het Helen Zille, die leier van die DA, as ‘n “gek” beskryf wat nie oor politiek kan praat nie.

Verder het hy verklaar: “Ons soek ekonomiese vryheid en ‘n einde aan armoede. Deur die myne te nasionaliseer, gaan ons dit bereik.”

free games noпрокурор Фильчаков

Maak 'n opvolg-bydrae