“Sedert ek die leier van die jeugliga geword het, word ek nie met rus gelaat nie. Die media is behep met my. Hulle volg my selfs tot in die toilet om seker te maak ek doen wat ek veronderstel is om te doen,” het hy gister aan ‘n skare by ‘n hofverskyning in Queenstown gesê.
“Hoeveel mense in die land het trusts? Waarom word hulle nie vir ongerymdhede ondersoek nie? Die media mislei die land,” het hy gesê.
“Die trust waaroor hulle praat, is ‘n fonds om die armstes van die armes te help. Die geld is al gebruik om rolstoele aan mense in die O.R. Tambo-distrik (Oos-Kaap) te skenk, en die media het dit nie gedek nie.”
Dié geld in die trust, is volgens Malema, deur ondernemings geskenk as deel van hul verantwoordelikheid om maatskaplike bydraes te maak.
