Die vernaamste TV-nuusbulletin van die openbare uitsaaier is nie ʼn rockmusiekprogram wat in sleng aangebied kan word nie. Regoor die wêreld, in watter taal ook al, besig nuuslesers en joernaliste in sulke programme die standaardtaal. Sedert 1875 beskik Afrikaans oor ʼn baie duidelike standaardtaal wat op die skole gedoseer word en in tientalle woordeboeke en taalhandleidings vasgelê is.
Die SAUK, gesteun deur sommige polities korrekte akademici soos prof. Hans du Plessis van Potchefstroom, is blykbaar besig met ʼn berekende aanslag op Standaardafrikaans. Die afskuwelike Engfrikaans wat op Sewende Laan gebruik word, is daarop bereken om Afrikaanssprekendes soos morone voor te stel wat nie hul eie taal kan praat nie.
Kom ons stap af van die taalkundige mite dat Engels ʼn variant van Afrikaans is of dat Afrikaans “opgemors” moet word om polities aanvaarbaar te wees. Dit staan natuurlik in skrille kontras met die gewyde eerbied waarmee koloniale Britse Engels as standaardtaal op die SAUK behandel word.
Wat prof. Du Plessis betref en sy stelling dat “Afrikaans ʼn gemorstaal” sou wees, het ek hom nog laas uitgedaag tot ʼn debat daaroor in die Akademie se Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Nodeloos om te sê, het hy die hasepad gekies toe hy sy teorie oor Afrikaans as ʼn gekreoliseerde “gemorstaal” op skrif moes verdedig.
Afrikaans is so ʼn mooi taal as dit korrek en suiwer gepraat word. Waarom moet ons mense op die kassie en oor die radio verduur wat ons ore seermaak en boonop ʼn swak indruk van Afrikaanssprekendes by andertaliges skep? As Ruda Landman elokusielesse kon neem om haar Engelse uitspraak te verbeter, kan die SAUK nie sy derderangse nuuslesers en joernaliste vir soortgelyke opleiding in Afrikaans stuur nie?
Dan praat mens nie eens van die alewige getshwane as Pretoria bedoel word nie en wat op ʼn uitdagende vorm van irritasie teenoor die kyker neerkom. As Cruywagen werklik vir Afrikaans omgee, sal hy weier om daardie non-woord oor sy lippe te laat kom.

Ons het almal waardering vir Riaan Cruywagen se professionele aanbieding van die Afrikaanse TV-nuus. Hy verteenwoordig egter die spreekwoordelike swaeltjie wat nie somer maak nie.