Opstande oor prysverhogings wat deur opposisiegroepe uitgebuit word, het reeds die lewens van 12 mense in Malawi geëis. Kantore en winkels op verskeie plekke is in brande verwoes.
Opposisiepolitici sê dat net “demokrasie” laer pryse sal waarborg.
In Blantyre, die Malawiese hoofstad, is verskeie mense beseer in botsings tussen die polisie en betogers. Inwoners wat die owerhede goedgesind is, het glo die polisie bygestaan.
Betogers is woedend omdat pres. Bingu wa Mutharika skynbaar niks doen aan stygende kospryse nie. Die president se pogings om die optog van Woensdag te verhoed, het glo misluk.
Volgens bronne het die ontevredenheid begin nadat Mutharika Fergus Cochrane-Dyet, die Britse ambassadeur, in April uitgeskop het omdat hy die Malawiese president as ‘n diktatoriale leier beskryf het.
Die Britse regering het in antwoord daarop Malawi se hulp opgeskort en sý ambassadeur gevra om die land te verlaat.
Malawi is vir 60% van sy begroting op Brittanje aangewese. Kos- en ander verbruikersspryse het daarna die hoogte in geskiet weens die gebrek aan hulpgeld.
