Die leserspubliek het verlede week ongetwyfeld verstaan dat ‘n mediamaatskappy wat byna 40% van die koerantmark vir homself toegeëien het, geen gesonde nuusdekking kan waarborg nie.
In Suid-Afrika is die internet die enigste suurstof by die gebrek aan ‘n verskeidenheid nuusbronne. Media24 se wurggreep op die vloei van inligting in Afrikaans is byna totaal.
Boonop word die Avusa-groep, alhoewel ver agter in die tweede plek, deur sy eie werknemers as ‘n “kabaal” beskryf wat ‘n “navorsingspan” gebruik wat nie te onderskei is van ‘n regering se inligtingsbedryf nie. Geen joernalis het toegang tot die soort onthullings wat die Sunday Times week na week opdis nie en werknemers spot gereeld dat die Britse geheime diens, MI6, die hardste werk om sirkulasie vir die koerant te stoot.
Dit herinner sterk aan wat Carl Bernstein, die vermaarde verslaggewer wat Nixon mbv Watergate gesink het, in die sewentigerjare ontdek het oor die noue samewerking tussen die CIA en Amerika se voorste nuusbronne.
Dis hier te lande al jare lank dieselfde onverkwiklikheid wat lesers in Brittanje tans weer ontdek: Gefabriseerde menings en manipulasie van nuus en opinie om ‘n klein elite ter wille te wees.
Wat ook al die oorsprong van die nuus mag wees, raak dit egter duidelik dat geen mening ooit pro-Afrikaans gaan wees as dit van Media24 of Avusa afhang nie.
Die seismiese skudding in Fleetstreet gaan Murdoch waarskynlik sy empaaier kos, want ‘n breë konsensus van onwaarskynlike vennote teen Murdoch se verdere uitbreiding het sedertdien in London se medialandskap vorm aangeneem. Gerugte doen selfs die rondte dat die eens onaantasbare mediamagnaat gaan bedank.
Dit was eintlik te wagte. Die konsentrasie van allerlei media wat Murdoch in Brittanje voorsien het, sou heeltemal onwettig in Australië of die VSA gewees het.
Murdoch se besit van die Sun, News of the World, die Times asook die Sunday Times, gee hom reeds 37,3% van die VK se sirkulasie. Ontleders sê die beleërde magnaat sou teen die middel van die eeu ten minste 50% van die koerant- en televisiemark ingepalm het as hy nie in die huidige teëspoed beland het nie. Selfs nie eens die omstrede Italiaanse premier en mediamagnaat Silvio Berlusconi kan daarmee spog nie.
Kuberkrakers het nie op hulle laat wag nie, en intussen by die Sun ingebreek om ‘n vals berig oor Murdoch se afsterwe op die voorblad te laat pryk; ‘n skeutjie van sy eie medisyne om te wys dat selfs die magtigste mediaman op aarde nie bestand is teen kritiek nie.
Dat Murdoch nog kan spog met ‘n geskiedenis van redaksionele inmenging, maak die konsentrasie van invloed dmv sy koerante net soveel te meer ongewens.
Suid-Afrika se mediamonopolie moet maar kennis neem. Lesers se goedgelowigheid het perke.
