Staar Suid-Afrika revolusie in die gesig?

Beste mede-Afrikaner,

Sedert 1994 en selfs daarvoor, het die hoofstroommedia in Suid-Afrika nog altyd die blanke en Afrikanerbevolking probeer sus deur radikale uitsprake van ANC-lede oor revolusie en grondhervorming as “blote praatjies” af te maak. In sommige kringe is daar selfs oor die hamer-en-sekel as ‘n soort modebykomstigheid gegiggel. Oor die afgelope tyd en sedert Julius Malema se meteoriese opgang, plaas Beeld, Business Day en ander koerante egter toenemend bekommerde rubrieke en kommentaar oor nasionalisering en grondgrypaksies soos in Zimbabwe wat die land op sy knieë kan dwing.

Hier by PRAAG ontleed ons reeds jare lank die ANC se onderliggende radikalisme wat een of ander tyd in eweneens radikale optrede vertaal móét word. Dit kom dus as geen verrassing dat Malema, wat hom inderdaad op die “Freedom Charter” van 1955 beroep, asook Cosatu, tans nasionalisering en volskaalse sosialisme, selfs kommunisme, ernstig oorweeg nie.

Vandag het Max du Preez ‘n artikel op die grootste webwerf in die land, news24.com, geplaas waarin hy insgelyks die “stank van revolusie” bespeur:

http://www.news24.com/Columnists/MaxduPreez/The-sickening-smell-revolution-20110706

Hierop het ek ‘n kort, ietwat sarkastiese, antwoord geskryf:

http://praag.co.za/dan-roodt-magazine-178/9891-dis-die-parfuum-van-revolusie-max.html

Die vraag is egter: wat kan elkeen van ons doen, noudat ons voortbestaan, ons ekonomie, grond, eiendom en moontlik selfs ons lewens en dié van ons geliefdes deur revolusie bedreig word? Soos die Duitse vroue in Oos-Europa wat aan die einde van die tweede wêreldoorlog nie op negatiewe nuus wou reageer totdat hulle die rusperbande van die Russiese tenks in die strate gehoor het nie, gaan vele van ons mense tans ook nie reageer nie. Twee miljoen van daardie vroue het omgekom en miljoene ander is verkrag en verontmenslik omdat hulle nie betyds wou reageer nie. Dis bloot menslik om slegte nuus te wil ontken of te wil ignoreer.

PRAAG is ‘n grootliks virtuele beweging, maar wat oor beduidende internasionale kontakte, eie media, tegnologie, toegang tot ander media en ook ‘n landwye organisasie met latente vermoëns beskik.

Ons gaan beslis op verantwoordelike en doelgerigte wyse op die bedreiging van revolusie reageer. PRAAG HET ‘N PLAN. Ons sal die besonderhede van daardie plan punt vir punt en soos dit nodig raak, bekendstel.

Enige ander “planne” wat onlangs aangekondig is, bestaan uit blote diplomatieke druk, meer realisties, uit ‘n gebedel vir buitelandse simpatie. Nóg Brittanje, nóg die VSA onder mnr. Barack Obama, het enige simpatie vir die Afrikaner en sal hande gevou toekyk hoe ons deur ‘n revolusie van die radikale linkse tipe vernietig word. Ons is op onsself aangewese, geheel en al. Dit moet ons nóú aanvaar.

Verskeie Afrikaanse organisasies beskik oor aansienlike fondse van tot ‘n miljard rand en meer wat vir ons huidige oorlewingstryd gebruik sou kon word. Weens die bande van daardie organisasies met mnr. FW de Klerk en die kabaal van verraaiers wat ons herhaaldelik in die rug gesteek het, sal sodanige organisasies egter eerder geld aan ons vyande beskikbaar stel as om ons volk in nood te hulp te snel.

Oor die volgende dag of twee sal ons ook begin om nuusbriewe per e-pos uit te stuur, maar ons vra elke Afrikaner of blanke wat met die Afrikanergroep identifiseer, om die volgende dinge te doen. Die aksies gaan van baie maklik en onbetrokke tot groter betrokkenheid en opoffering, dus:

1. Skep bewustheid. Stuur hierdie boodskap aan al u familie en vriende om hulle bewus te maak, op Facebook en op e-pos.

2. Ontvang nuusbriewe. Plaas u e-posadres op ons webwerf vir nuusbriewe deur op die banier aan die regterkant genaamd “Nuusbrief?” te klik. Dit sal ongeveer tien sekondes van u tyd neem! Hier is die regstreekse skakel na die nuusbrief-intekening:

http://praag.co.za/lists/?p=subscribe&id=1

3. Sluit by PRAAG aan deur die vormpie op die volgende bladsy in te vul (dit neem ‘n minuut of twee):

http://praag.co.cc/af

4. Vorm steunkringe van 8 tot 10 mense in u omgewing wat uit bure, vriende of familie bestaan, mense waarop u in tyd van nood vir bystand kan reken en sorg dat u elkeen se landlynnommers, selfoonnomers, adresse, e-posadresse, ens., byderhand het. Verkies ‘n verantwoordelike persoon of leier en onderleier. In verdere nuusbriewe sal ons u inlig aan watter soort landwye struktuur u sal kan deelneem om voorvalle van geweld en oproer, asook tekorte aan water, elektrisiteit of voedsel te hanteer. Onthou die dodelike drie 3’s: 3 minute sonder suurstof, 3 dae sonder water, 3 weke sonder kos. Indien ons boere van plase verdryf gaan word, sal voedselskaarstes baie gou ontstaan, pryse sal vinnig styg en teen daardie tyd sal die rand ook drasties in waarde begin verminder soos wat buitelanders via die finansiële markte hul kapitaal uit die land onttrek.

5. Sorg dat u oor kontant beskik om in buitelandse valuta om te sit want sodra paniek ontstaan en die rand tot die vlak van ‘n Zim-dollar begin daal, sal u dollars of euro nodig hê om voedsel of brandstof mee te koop, net soos in Zimbabwe gebeur het. In dié verband is daar slegs een reël wat elke handelaar in banke of aandelemakelarye wêreldwyd ken: “As jy paniekbevange wil raak, doen dit eerste!” Oor die volgende paar dae sal ons ‘n eenvoudige en wettige skema aankondig waarmee u gemaklik kleiner bedrae na die buiteland kan oorplaas na ‘n Afrikanerverskansingsfonds waaruit u ook weer fondse sal kan onttrek soos wat dit later nodig blyk. Anders as die Duitse vroue aan die einde van die tweede wêreldoorlog, gaan ons nie wag vir tenks of gewere in die strate nie. Ons skrik eerste en ons reageer eerste van almal. Net soos ons ontleding lank voor Max du Preez, die Business Day of Beeld s’n korrek was.

6. Binne die volgende twee tot drie weke sal ons omvattende voorstelle maak oor ‘n alternatiewe staatkundige model waarmee revolusie bemoeilik kan word, indien nie heeltemal afgeweer kan word nie. Daarmee saam sal ons begin om verdere kommunikasie- en burgerlike strukture in te stel wat ons bevolking meer paraat sal maak om ongrondwetlike optrede deur radikale elemente binne die ANC-jeugliga en ander organisasies die hoof te bied.

Die geskiedenis van Afrika sedert 1960 is een van dikwelse burgeroorloë, revolusies, oproer, ekonomiese en voedselkrisisse soos in Zimbabwe en selfs volksmoord soos in Rwanda. Meer as ooit in sy geskiedenis is Suid-Afrika vandag ‘n Afrikaland wat volgens Afrikareëls funksioneer. Slegs gekke of lesers van die huidige regime se propaganda in die hoofstroommedia sal dit wil ontken.

Ons mag nie langer in ontkenning leef nie. Neem die eenvoudige stap om ten minste op ons nuusbrief per e-pos in te teken aan die regterkant van ons webwerf praag.co.za of direk by hierdie skakel:

http://www.praag.co.za/lists/?p=subscribe&id=1

U sal binnekort weer van my hoor.

Tot dan wens ek u sterkte toe.

Met vriendelike groete,

Dan Roodt

Naskrif: ‘n Mens hoef slegs die onbekende te vrees of dít waarop ‘n mens nie voorbereid is nie. Revolusies het deur die geskiedenis dieselfde gewelddadige patroon gevolg. Ons weet dus presies wat om te verwag. As volk het ons Hugenote-voorouers die Bartholomeusnag van 24 Augustus 1572 in Frankryk oorleef, Vegkop en Bloedrivier, asook die konsentrasiekampe en verskroeide-aardebeleid van Brittanje van 1900 tot 1902. Sonder versiendheid in die verlede, sou ons nooit tot hier gekom het nie. Hou moed!

освещение лестницы светодиоднойлобановский александр интервью

Maak 'n opvolg-bydrae