Gaddafi kan met sy aftrede in Libië aanbly indien hy alle mag oorhandig, het die land se opposisie-leier gesê.
Dié uitspraak kom nadat ‘n Suid-Afrikaanse sending gelei deur pres. Jacob Zuma in Moskou aangekom het vir samesprekings oor die Libiese kwessie. Beide die AU en Rusland is ten gunste van ‘n vreedsame skikking in Libië en sterk gekant teen NAVO se betrokkenheid.
Lede van Gaddafi se binnekring het reeds aangedui dat hulle gereed is om te onderhandel met die rebelle, insluitend oor die Libiese leier se toekoms.
Mustafa Abdel Jalil, wat die rebelle se nasionale oorgangsraad lei, het aan Reuters gesê: “Hy (Gaddafi) kan besluit om in Libië of in die buiteland te bly.”
“As hy in Libië wil bly, sal ons die plek bepaal en dit sal onder internasionale toesig wees en toesig van al sy bewegings.”
Jalil, wat voorheen Gaddafi se minister van justisie was, het gesê hy het die voorstel ‘n maand gelede na die VN gestuur, maar nog geen reaksie ontvang van Tripoli nie.
Hy het gesê ‘n voorstel was dat Gaddafi sy aftrede onder wag in ‘n militêre kaserne kan deurbring.
Die Libiese regering het herhaaldelik daarop aangedring dat Gaddafi ‘n simboliese figuur is wat geen betrokkenheid by die dag-tot-dag bestuur van die land het nie. Die regime se woordvoerder, Moussa Ibrahim, het gesê hulle is bereid om dit “op skrif te sit” dat Gaddafi geen politieke of militêre magte onder ‘n nuwe grondwet sal hê nie.
“Wat ons doen is wettig en moreel en polities baie meer oortuigend,” het hy gesê. “Ons sê Libiërs moet self besluit oor die posisie van die leier. Nou wie is meer demokraties, ons of die rebelle?”
Gaddafi se dogter Aisha het gesê haar pa sou bereid wees om ‘n ooreenkoms met die rebelle aan te gaan maar hy wil nie die land verlaat nie, en sy seun, Saif Al-Islam, het gesê die leier sal mag prysgee as dit die wil van die Libiese mense is.
Turkye, wat noue ekonomiese bande met Gaddafi voor die opstand gehad het, het $200 miljoen se steun aan die rebelle belowe bykomend tot die $100 miljoen wat reeds in Junie aangekondig is.
Die konflik in Libië is naby aan ‘n dooiepunt, met rebelle op drie fronte wat nie in staat blyk te wees om ‘n beslissende opmars na Tripoli te lei nie en groeiende spanning binne NAVO oor die koste van die operasie en die onvermoë om ‘n militêre deurbraak te maak.
