Leopold Scholtz skryf vandag ‘n lofprysing aan Solidariteit in Die Burger. As ‘n mens iets doelbewus verswyg kan gewoonlik daaruit afgelei word dat daar ‘n motief vir die verswyging bestaan.
Ek stel die volgende aan u, dr. Scholtz: Die feit dat u nou Flip Buys en sy Solidariteit voorhou as die redelike stem uit die NSA eintlik n desperate poging is om die volksverraaier, FW de Klerk, se aansien in die buiteland te probeer red deur steun vir sy ineengestorte NSA-reënboognasie te skep.
Hoekom word u en FW de Klerk se deelname as deel van die Solidariteitsgroep nie genoem nie? Dit kan n mens ook laat wonder waar Pik Botha en Roelf Meyer moontlik inpas?
Graag verneem ek u mening rondom die ongetemperde volksmoord wat deur die ANC-regime stilswyend toegelaat word, die diskriminasie by werksgeleenthede en nou die onteiening van blankes se plase wat tot dusver vir voedselsekerheid gesorg het. Die ANC se ontbinding van veiligheidsgroepe om die boere te probeer beskerm en nou ook die eerste plaasbesetting deur swartes in die NSA is insgelyks uiters kommerwekkend.
So pas het die kragbron ESKOM hulle onbekwame ANC-mense tot meer as 500%-verhogings toegestaan terwyl dit in die vooruitsig gestel word om die kragtariewe nou so te verhoog dat dit nie meer bekostigbaar vir die gewone man op die straat gaan wees nie.
Dit ontwyk my watter regdenkende mens nog bereid sal wees om onder hierdie uiters onsuksesvolle ANC-regime samewerking te wil bewerkstellig ná 17 jaar se stereotipe vernietiging van ons land – sonder om een enkele mens se lewe te verbeter of twee bakstene op mekaar te pak. Wat uitstaan is die regime se ongekende selfverryking benewens natuurlik FW de Klerk se eie verryking. Flip Buys tref my as naïef of dalk gaan dit vir hom maar ook net oor finansies en is hy bloot besig om vir sy organisasie geldelike steun in die buiteland te soek terwyl ons mense in die NSA-dwingelandy aanhou krepeer.
