Die Valke wat in November verlede jaar sy ondersoek na die wapenskandaal sonder verduideliking laat vaar het, het onderneem om dit te heropen.
Nuwe inligting van ‘n Sweedse verdedigingsmaatskappy, SAAB, het die Valke genoop om opnuut die regering se omstrede multimiljardrand-wapentransaksie onder die loep te neem.
Dié inligting is ook aan die hoofaanklaer van die nasionale teenkorrupsie-eenheid in Swede oorhandig.
Lt.genl. Anwar Dramat, hoof van die Suid-Afrikaanse Valke se ondersoekeenheid, het Maandag ‘n onderneming gegee dat die saak heropen sal word.
Hakan Buskhe, uitvoerende hoof van SAAB, het verlede week erken miljoene rande is aan omkoopgeld betaal om die kontrak te beklink om Gripen-vegvliegtuie aan die Suid-Afrikaanse regering te verkoop.
Buskhe ontken egter SAAB aandadig was. Hy het sy eertydse Britse vennoot, BAE Systems, daarvan beskuldig dat hulle sonder SAAB se medewete omkoopgeld betaal het. Die geld is glo aan mnr. Fana Hlongwana, ‘n adviseur van die destydse minister van verdediging, Joe Modise, oorbetaal.
Buskhe het op 16 Junie in ‘n verklaring gesê R24 miljoen is tussen 2003 en 2005 deur BAE aan Sanip Edms. Bpk. betaal. Volgens Buskhe is die omkoopgeld aan ‘n “Suid-Afrikaanse konsultant” in die vorm van “bonusse en salarisse” betaal.
