Wit kinders het grootgeword met die idee dat swart mense niks gesofistikeerds kan doen nie, het die ANC-jeugliga se president Julius Malema Donderdag gesê.
Tydens die voorlegging van sy politieke verslag aan die Jeugliga-konferensie in Midrand het hy gesê die eerste interaksie tussen ‘n wit kind met’ n swart persoon het geskied toe die swart persoon ‘n huiswerker of’ n tuinier was. Daar is na sulke mense as “‘n “jong” of “meid” verwys.
“Die tweede interaksie is wanneer ‘n wit kind ‘n swart persoon op ‘n straathoek teëkom wat bedel,” het hy gesê.
Hy het gesê die voormalige apartheidsregering het daarin geslaag om dié rassistiese ideologie binne die wit gemeenskap te kweek.
“Diegene wat by apartheid baat gevind het, maak beswaar as ons om regstellende aksie vra, hulle dink ons wil hulle van werksgeleenthede ontneem,” het hy gesê.
Oningeligte analise
Malema het ook die geleentheid gebruik om stellings dat die liga se “uitbarstings” blanke stemme van die ANC vervreem as ongegrond afgemaak.
“Dit is ‘n oningeligte analise,” het hy gesê.
Hy het verduidelik dat die Jeugliga dieselfde rol speel as wat gebruiklik was toe die liga deur Nelson Mandela gelei is.
“Die nasie praat oor die ekonomie omdat die Jeugliga daaroor praat,” het hy gesê.
Hy bevraagteken die rede waarom die meerderheid van die swart mense min grond besit, terwyl die meerderheid van die grond in die hande van die blanke minderheid verkeer.
Die 1948-brondokumente van die ANC-Jeugliga het verklaar dat grond ten gunste van die meerderheid herverdeel moet word.
“Die grondvraag moet opgelos moet word, indien nodig op die harde manier,” het hy gesê en sodoende die ANC-leier OR Tambo aangehaal.
Hy het gesê die ANC het probeer om vir die afgelope 17 jaar die grondkwessie deur die gewillige verkoper / gewillige koper -benadering aan te spreek, wat misluk het.
“Die enigste opsie is om die grond sonder vergoeding af te neem, as jy weier vir ons ‘n alternatief te verskaf,” het hy onder toejuiging van die afgevaardigdes gesê.
Malema het in die verslag ook beklemtoon dat ekonomiese geleenthede vir die jeug geskep moet word, dog sonder om die gehalte van die eindproduk te beïnvloed.
“Ekonomiese vryheid beteken dat ons opgevoed moet word, gratis onderwys moet ‘n werklikheid word. Dit moet nie jaar in en jaar uit bloot in die begrotingsrede figureer nie,” het hy gesê.
Verloorgroep
In ‘n hou na die SA Kommunistiese Party sonder om dit by die naam te noem, het hy gesê die organisasie van Moses Kotane begin na ‘n verloorgroep binne die ANC lyk.
“Dit is te besig met vrae soos: wie het ‘n burgemeester, raadslid of sekretaresse geword?”
Hy het gesê die onlangse plaaslike verkiesing het gebreke binne die ANC se interne moniteringstelsel blootgestel.
“‘n ANC-geleide munisipaliteit in die Vrystaat het toilette sonder huisies gebou en die ANC was nie bewus van sulke voorvalle het,” het hy gesê en dit as’ n voorbeeld beklemtoon.
Jong mense moet gereed maak om posisies binne die ANC in te neem.
“Die tyd is ryp vir jong mense om leierskapsposisies in die ANC te beklee.”
Malema het die verslag afgesluit deur die omstrede liedjie Dubula ibhunu, waarvan die lirieke as “skiet die boer” vertaal is, te sing.
