Gugile Nkwinti, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, het Dinsdag in die parlement aangekondig dat die voorgenome Wetsontwerp op Grondbeskerming buitelandse grondbesit in Suid-Afrika sal reguleer.
Nkwinti se adjunk, mnr. Thembelani Nxesi het daarna gedreig dat grondbesettings ‘n “werklike gevaar” sal wees indien grondhervorming nie vinniger geskied nie. Hy het gesê plaaswerkers word reëlmatig onwettig van plase verdryf, vakbondlidmaatskap verbied en “selfs doodgemaak”.
Pieter Groenewald, VF+ se woordvoerder oor grondsake, het Nxesi se aantygings met minagting verwerp en gesê dit berus hoegenaamd nie op enige feite nie. Hy het bygevoeg dat Nkwinti se departement ‘n bedreiging vir voedselsekerheid inhou.
“Ek daag jou uit, bring vir my die statistieke van boere wat hul werkers vermoor en ek sal vir jou statistieke oor plaasmoorde gee. Jy moet jou feite regkry.”
Groenewald het gesê landelike ontwikkeling sonder kommersiële boere se hulp is wensdenkery. “Júlle skep onsekerheid, boere weet nie wat met hul grond gaan gebeur nie, daarom gaan boer hulle nou elders (in Afrika).”
Groenewald het Nkwinti sonder meer die waarheid kaalkop toegedeel: “Sonder kommersiële boere sal jou adjunk (Nxesi) nie so vet en blink hier kan sit nie.” Die LP’s het hardop gelag vir Groenewald se stelling.
Die departement het erken grondhervormingsprojekte het sedert 1994 op groot skaal misluk het. Tot R1,3 miljard sal oor die volgende drie jaar bestee word om boerderye wat deur swart boere oorgeneem is, reg te ruk.
