“Gister (Maandag) is ‘n vrou doodgeskiet, na bewering deur ‘n ongeïdentifiseerde veiligheidswag,” het brig. Phindile Radebe gesê.
Sy het ontken dat die vrou deur die polisie, wat op die skare van ongeveer 300 met lewendige ammunisie gevuur het, gedood is.
“Die polisie het nooit lewendige ammunisie gebruik nie,” het sy gesê. “Rubberkoeëls is gebruik om die skare uitmekaar te jaag.”
Moses Dlamini, woordvoerder van die Onafhanklike Klagtedirektoraat, was nie beskikbaar vir kommentaar nie.
Die SABC het berig ‘n man is ook dood tydens die betogings Dinsdag, maar dit kon nie bevestig word nie.
“Ons weet nie enigiets daarvan nie,” het Radebe gesê.
Inwoners betoog sedert Maandagoggend hier oor ‘n toename in taxifooie.
Radebe het gesê hulle het paaie met brandende bande afgesper.
Die polisie het Maandag 164 betogers in hegtenis geneem vir openbare geweld.
Hulle het in die landdroshof op KwaDukuza verskyn. Borgtog is nie toegestaan nie. Hulle sal weer oor sewe dae verskyn.
Nóg 108 betogers is Dinsdag in hegtenis geneem en sal na verwagting Woensdag in die hof verskyn.
Dit is nie seker of taxibestuurders geteiken is tydens die betoging nie, het Radebe gesê.
“Die polisie is ontplooi en sal die gebied oornag monitor. Op die oomblik is dinge onder beheer,” het sy gesê.
