Leiers wat uitgevang word dat hulle invloed probeer werf vir gunsteling kandidate of inmeng by die ANC-Jeugliga se verkiesingskonferensie, kan dissiplinêr verhoor word, het ‘n woordvoerder van die ANC Sondag gesê.
“Ons wil nie enige inmenging in die verkiesingsproses sien of dat lede van die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) met kandidaat-gunstelinge vorendag kom wat hulle in die leierskap van die ANCJL wil sien nie,” het Brian Sokutu aan Sapa gesê.
“Die organisasie sal nie huiwer om sulke leiers voor die ANC se Nasionale Dissiplinêre Komitee te daag nie.”
Sulke inmenging sal die ANC se naam ontsier, het die ANC in ‘n verklaring gesê.
“In hierdie opsig wil ons beklemtoon dat nie die NUK of die ANC enige kandidaat-gunstelinge vir die presidensie of enige ander leiersposisie in die Jeugliga het nie,” het die verklaring gelui.
“Teen hierdie agtergrond wil die ANC-leierskap saamwerk met enige leierskap van die ANC-Jeugliga wat demokraties verkies word by hul volgende konferensie.”
Sokutu het beklemtoon dat die ANCJL-konferensie niks met die ANC-leierskap te doen het nie en dat dit nie ‘n voorganger is vir die ANC se verkiesingskongres in 2012 nie.
