“Die minister moet die verslag dadelik bekend maak. Haar voorganger, mnr. Mosiuoa Lekota, het destyds in die Parlement onderneem dat die ondersoek na die Lohatlha-skietery deursigtig sal wees en dat niks weggesteek sal word nie. Die bekendmaking van die verslag is noodsaaklik sodat die Parlement sy oorsigrol kan vervul. Die publiek is ook geregtig om te weet wat verkeerd gegaan het en watter voorkomende stappe geneem is om ‘n soortgelyke insident te voorkom,” sê Pieter Groenewald, hoofwoordvoerder vir Verdediging van die Vryheidsfront Plus.
“Daar is baie onbeantwoorde vrae oor wat verkeerd gegaan het en of daar nalatigheid was en wie daarvoor verantwoordelik was. Daar is gesê dat die meganiese veiligheidspen van die kanon gebreek het, maar die kanon het ook statiese veiligheidspenne wat die doodsakker vaspen. Indien daar enige nalatigheid was moet iemand daarvoor verantwoordelik en aanspreeklik gehou word. Ek sal vandag ‘n amptelike vraag aan die minister oor die verslag by die Parlement indien,” het Groenewald gesê.
“Wat verder kommer wek is dat in agt sterfgevalle sedert 2007 is die Raad van Ondersoek na die voorvalle nog nie afgehandel nie. Dit sluit drie valskermsoldate in. As die ondersoek na die oorsaak nie afgehandel is nie, kan dieselfde fout hom herhaal en kan meer soldate sterf gedurende opleiding. Die minister sal ook moet antwoord hoekom hierdie ondersoeke nog nie afgehandel is nie,” sê Groenewald.
